Dag 7

Sondag 26 April 2015

Ons is net na 9 klaar gepak en reg vir die 170 km vir die dag. Dis meeste van die afstand is ‘n redelike grondpad met ‘n paar dele baie klip. Ons wil eers ‘n draai gaan maak by die Visrivier Canyon en dan ry tot op Seeheim waar ons gaan oorslaap. Ons het so gereël dat ons ons ander vriende, wat ook die woestyn trip gaan doen, daar ontmoet. Ons sien heelwat wilde diere op ons pad.

Ons is net net voor 12 by Hobas waar ons betaal om na die Visrivier Canyon se uitkyk punt te ry. 

Dis met die terugloop bakkie toe, dat Moeksie vir my die water onder die waentjie wys. Ek is moedeloos, kwaad, teleurgesteld !! Die watertenk in die waentjie het voorheen gelek en ek het hom teruggeneem na die ou wat hom ingesit het. Hy het gesê hy het die lekplek reggemaak (net van onder af gesweis en nie die hele tenk uitgehaal soos ek voorgestel het nie, te groot job het hy gesê) en hy sal nie weer lek nie.

Dis BAIE mooi, die uitsig van hier bo af en ons gebruik  baie tyd om fotos te neem. Was al ‘n paar keer hier, maar elke keer lyk dit anders, kan dit nie op ‘n foto vaslê nie, moet dit kom sien.

Die Visrivier Canyon is die tweede grootste canyon ter wêreld, naas die Grand Canyon in Amerika. Die canyon vorm deel van die Ais-Ais Richtersveld Oorgrens Park. Ek was bevoorreg om ontbyt in die Grand Canyon in Amerika te kon eet, wat ‘n ongelooflike ervaring !! Het met ‘n helikopter afgevlieg en langs die Colorado rivier geland waar ons ontbyt geniet het.

Na al die fotos is ons terug voertuie toe, net om te sien Anton se agterband is pap. Ek help hom om die running repairs te doen en is weer reg vir die pad.

Van hier af is dit eers ‘n vinnige stop by die bekende Canyon Roadhouse om ‘n kouetjie te geniet, Ons het al hier oorgeslaap, n lekker plek.

Ons vat die pad verder en is net na 17:00 by die Seeheim hotel. Dis ‘n legendariese landmerk hierdie, die Seeheim hotel. Was al ‘n paar keer hier.

Dis as ons nader stap dat vriend Martin en Rika op die stoep sien sit met ‘n kouetjie! Die waterdruppels aan die glas sê dis net die regte medisyne vir nou. Hulle is van Gauteng en het gisteraand in Upington oorgeslaap. Weer vroeg vanoggend daar weg. Die res van die groep sal ons in Lüderitz kry. Ons en Martin-hulle is ook al lang jare vriende en kampmaats, ken mekaar al 38 jaar en het al BAIE saam gekamp. Ek is bevoorreg om goeie vriende te hê, mense met wie jy die lewe kan deel.

Martin en Moeksie

Net as ek die waentjie hier voor langs die klip wil opslaan, sê Anton hy stick vir my en Moeksie vanaand, het ‘n eenheid bespreek met twee kamers, ons deel met hulle. 

Martin se broer, Jan en Carina en ‘n vriend van Jan, Louis en Marianne is ook al hier. Vannaand gaan ons kuier tot die biesies bewe.

Moeksie en ????
Magda en Anton

Die oktaaf x 3 verhoging in die stembande, getuig dat almal lekker kuier. Vannaand eet ons hotelkos, maar die eienares sê ons moet die Orix steak probeer, sy maak dit self gaar.

Moet bieg, die lekkerste gemsbok vleis wat ek ooit in my lewe geëet het, murg sag, nie droog nie en BAIE smaaklik !!! Sal hom weer hier kom eet.

Dis laat aand as almal bed toe is. Gaan more oggend eers hier ontbyt eet, want Lüderitz is nie ver nie.

  • Leave a reply