Dag 8

Maandag 27 April 2015

Die son is al hoog as ek en Anton mekaar op die stoep voor die hotel ontmoet. Daar is geen haas vanoggend nie. Gisteraand se slaap was luuks en dis lekker om nie tent af te slaan nie, start  net die bakkie en ry. Die ander is al klaar geëet as ons die eetsaal instap. Hulle gaan solank pad vat Lüderitz toe.

Martin, Rika, Carina, Jan en Marianne

Die ontbyt is die full monty,  soos net hierdie hotel dit kan voorsit. Dis eintlik nie ‘n goeie ding nie, jy oorvreet jouself aan die lekker kos. Dis net na 10 as die voertuie die teerpad vat, oor Konkiep, Aus na Lüderitz. Dis ‘n mooi teerpad die volle 295 km.

Dis net voor 14:00 as ek en Moeksie inboek by Shark Island. Was een maal tevore hier, toe die wind van die tente vernietig het, in flarde geskeur. Dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Die res van die mense slaap almal by Obelix gastehuis vanwaar die woestyn trip  ook gaan begin.

Dis ‘n pragtige windstil middag met die sonnetjie wat lekker bak. Moeksie het nog tyd om ‘n paar goedjies uit te spoel en op die wasgoed draad te hang vir droog word. Ons verkeer rustig by die kamp die res van die middag. Ons het ‘n afspraak met die hele groep vanaand, ons almal eet saam by Ritzi’s restuarant op die Waterfront.

Die koue kom vinnig in wanneer die sonnetjie begin sak. Daar is ‘n misbank wat vinnig in kom en die sonsondergang gaan nie wees soos ons hom al hier beleef het nie.

Dis net na 19:00 as ons by Ritzi’s aankom. Met die uitsondering van nog een of twee couples, is die res van die groep almal reeds daar. Dis ‘n voorstellery en gesels uit ‘n ander wêreld. Ons gaan ‘n totaal van 10 voertuie wees wat die woestyn gaan aandurf en ‘n ete voor die tyd is die ideale geleentheid om mekaar te leer ken.

As ek die wynbottels sien wat die kelner wegdra, weet ek almal kuier lekker. Dis laataand as ons die restuarant verlaat na ‘n gesellige en lekker ete en kuier.

Leave a reply