Dag 9

Dinsdag 28 April 2015

Ek en Moeksie is vroeg op om die sonnetjie op te soek. Dis nog koud as ons met die koffie in die hand op die rotse gaan sit en wag vir die sonstrale, Moeksie snoesig toegedraai in haar kombers. Dis effe toegetrek en die sonnetjie gaan nie vroeg deurkom nie.

Ons maak ‘n lekker brunch  en begin stadig oppak. Ons slaap ook vanaand by Obelix, wil nie more oggend sukkel om af te slaan nie. Dalk is die tent nat gedou, dan gaan dit neuk om betyds by die groep aan te sluit.

As ons by die gastehuis aankom, is almal besig met die laaste reg- en wegpak, seker maak alles is oordentlik vas. Almal maak reg vir more se rit. Die mense van Obelix het gesê ek kan my waentjie hier op hulle perseel stoor vir die 4 dae wat ons gaan weg wees. Ek pak ook al die onnodige kampgoed in ‘n stoor wat hulle vir my beskikbaar maak, wil nie swaar gelaai wees vir die duine nie.

As ek na van die manne se voertuie kyk, wonder ek of ek en Moeksie alles het wat ons MOET hê, want my canopy  agter is leeg, BAIE leeg in vergelyking met wat ek sien !? Die tog bag  met klere, die 3 jerry  kanne, (2 vol petrol en een met 25 liter water) en die kompressor, lyk verdwaal agter in die canopy.

Vanaand is dit braaivleis in die lapa hier by Obelix. Dis gesellig as jy almal hoor praat van die ryery tot hier en die uitsien na die woestyn trip.  Hoor kort-kort iemand vra : Het julle dit en het julle dat ingepak? Is hierdie en daardie ook nodig?

Leave a reply