Dag 10

Woensdag 29 April 2015

Daar is ‘n GROOT opgewondenheid as ons vroeg opstaan en die laaste goedjies regkry. Na ‘n lekker ontbyt in die lapa hier by Obelix, ry ons na Coastway Tours se kantore waar ons ons gids, Ramon, ontmoet. Almal parkeer hulle voertuie in ‘n sirkel in die parkeer area voor die kantore.

Daar word eers baie kommentaar gelewer deur Ramon as hy so op ‘n afstand na elke voertuig kyk. Glo hy is geregtig op die kommentaar, as hy noem dat hy die trip 4 x per maand doen en weet watter voertuig is gemaklik met die duine en watter manne gaan bietjie sweet. Hy is darem nie bekommerd nie en stel ons gerus dat al die voertuie daar sal uitkom.

Dis mos maar ‘n manne ding, moet eers kommentaar lewer oor watter voertuig die beste is en hoekom joune beter is as die ander ou sin. Het al geleer, die dag toe die VW Beatle onder in die Hel (Gamkaskloof) aangery kom toe ons daar gekamp het. Hulle sê mos ook die beste 4×4 is a Avis Rent-A-Car. LOL

Ramon gaan deur die rympies wat ek glo hy al BAIE opgesê het, die moets en die moenies van die trip. Die drie belangrikste reëls vir die woestynrit, sê hy, is : 1) Bly in die spoor,  2) Bly in die spoor en 3) BLY IN DIE SPOOR !! Hy sal die spoor maak en jy bly net op sy spoor, dan sal jy veilig wees. Jy wil nie jou voertuig daar diep in die woestyn teen ‘n duin laat afrol omdat jy jou eie roete volg nie.

Op pad uit ry ons verby die bekende spookdorp, Kolmanskop. Was al ‘n paar keer daar, iets om te besoek, die huise wat deur die woestyn “opgeeët” word.

Dis net voor 10:00 en ons is so 10 km op die grondpad toe Ramon oor die radio aankondig dat ons eers gaan stop en bande afblaas, so 1 bar sal reg wees. Ons ry in konfooi en ek is nommer 8, tweede laaste. Jy bly die hele pad in jou posisie en so leer Ramon wie ry waar, as hy oor die radio met jou wil praat.

Ons vorder goed en na nog so 20 km stop ons weer vir ‘n bene rek. Dis net na 12:00 en Ramon sê ons behoort so half twee by die plek te wees waar ons middagete gaan geniet. Die landskap is bergagtige woestyn met ‘n eie bekoring aan hom.

Die terrein raak al meer sanderig en die duine begin sigbaar raak op die horison. Dis ook net soos Ramon gesê het, ons stop 13:30 en hy en sy twee manne sit vir ons ‘n feesmaal voor. Almal gesels en vertel hoe geniet hulle die rit.

Ons is 14:00 weer mobiel en Ramon lig ons in dat die sand nou dik gaan begin raak. Almal moet seker maak die banddruk is 0.8 bar. Ons moet momentum hou en seker maak die afstand tussen die voertuie word gehandhaaf. Ek geniet vir Ramon wat deurgaans op die radio vertel van die omgewing en bakens uitwys. Kan hoor, hy ken hierdie wêreld.

Dis 16:00 as ons ‘n laaste stop maak. Van hier af begin die duine en ons moet wikkel as ons nog daglig by die kamp wil aankom. Dis hier waar die enjin van die Jeep in die sand staan, met die fan  wat steeds deur die wind gedraai word, twintig jaar later !

Die eerste duin gaan maar sukkel-sukkel en ‘n hele paar manne moet ‘n tweede en derde poging aanwend om bo te kom. Van die manne is haastig en vlieg amper aan die ander kant oor. Glo elke ou moet eers sy voertuig leer ken in hierdie sand en self ook gemaklik raak met die duine.

Ramon sal eerste elk duin uitry, omdraai dat hy die voertuig van bo die duin af kan sien wat opkom en oor die radio advies gee. As hy sê : Poeier hom! bedoel hy voet-in-die-hoek, gee alles wat jy het. Dan weer : Stadig nou, stadig nou, net as jy amper bo is. As ek sien hoe hy elke voertuig inbring, weet ek hy ken elke voertuig en die duine soos die palm van sy hand.

Dis toe wat Ramon praat van die klein jakkalsie hier in die pad dat almal se oë rondsoek. Nee, ‘n jakkalsie word geroep as daar ‘n versteekte hobbel in die pad is, vat hom stadig, anders stamp jou kop teen die kajuit se plafon.

Wel gelukkig om die gemsbok op die horison te kon sien.

Die skaduwees begin vinnig lank raak en Ramon jaag ons aan, kan nie tyd mors nie. Ons gaan donker by die kamp kom en jy wil nie die woestyn aanvat in die donker nie.

Jy kan hoor in sy stem hy is haastig, as Ramon sê ons moet wikkel. Dis half sewe en dit gaan nou donker word.

Dis ook net betyds dat Ramon oor die radio sê ons is nog net 2 km weg, die son verdwyn nou vinnig agter die duine.

By die kamp aangekom is ek aangenaam verras met die opset. Die verblyf area is ‘n U vorm met slaapkamers weerskante en die storte en toilette aan die kop-end. Moet sê, beter as wat ek verwag het.

Elke couple  kies ‘n slaapplek en skrop nes, waarna almal oorstap na die kuierplek, die DEN.

Kamers weerskante met die ablusie aan die ver punt

Dis ‘n groot toegeboude skuur met ‘n vuurput in die middel, maar oorgenoeg spasie vir die kombuis aan die een kant en die kuierplek aan die ander kant.

Hierdie skuur en geboue is opgerig deur ‘n ene Mose Kahan, ‘n diamant prospekteerder van daardie jare, wat hy as werkskinkel gebruik het. Hy was ‘n legende in daardie jare. Hierdie gebied was deel van die konsessie wat aan hom toegestaan is om diamante te ontgin. Die naam van sy konsessie was Saddle Hill Ophir. Hy het sy voorrade met donkies vanaf Lüderitz gekry, wat tot 3 weke kon neem om hier uit te kom.

Met diamantpryse wat in 1945 die hoogte in geskiet het, het Mose ‘n klomp masjienerie aangekoop en hierheen gebring om die blink klippies te delf.

Die kombuis en die 2 kokke

Vannaand gaan ons GROOT kuier !! Ons het ons eerste vuurdoop van duine ry beleef, wat ‘n ervaring !!

Marianne Rika Martin & Marinda voor
Francois en Naomie
Carina en Jan
Laidean Koenraad en Eben
Anton en Ramon

Dis lekker snoesig en warm in die Den. Goed beskut teen die elemente daar buite en die groep kuier lekker!!

Leave a reply