Dag 11

Donderdag 30 April 2015

Almal is vroeg op, want vandag gaan ons die gebied Suid van Saddle Hill verken. Ek is al vroeg uit om die son te sien opkom oor die woestyn. Die strale breek net voor 7 oor die duine as die jakkals hier van die skuur se kant af stadig wegdraf. Glo hy het gister aand se braaivleis kom soek.

Die manne in die kombuis is druk besig om ontbyt voor te berei, ons moet half nege reg wees om te ry.

Dis net voor 9 as ontbyt klaar geëet is en almal mobiel is. Voor ons vertrek, vra Ramon dat almal seker sal maak hulle banddruk is 0.8 bar, wil nie vandag so sukkel soos gister nie.

Ons ry eers ‘n paar kilometer langs die see voor ons indraai woestyn toe. Dis ook net as ons langs die water ry wat die opgewonde stem oor die radio roep : Daar is hy, sien julle hom !! Dis Ramon wat die strandwolf (jut of ook bruin hiëna) doer ver teen die duin sien uithardloop. Hy is bly, want hy het drie maande laas een hier gesien.

Spore van die jut teen die duin uit, reg oor tweede laaste bakkie.

Dan draai ons die woestyn in, Ramon op sy pos aan die bokant om almal op te guide. 

Sommige manne se bande moes halfpad see se kant toe, om genoeg spoed te kry vir ‘n tweede probeerslag.

Moet sê, dit gaan vandag baie makliker as gister. Die manne weet nou al hoe die sand werk en hoeveel spoed om te gee om oor ‘n duin te kom. Die sand wat nog koud is, help ook baie. Ons stop hier en daar om net die stilte en die niks van die woestyn te geniet. Dis onbeskryflik, ook die kontras van die see en die woestyn. Ek voel klein as ek hier staan en om my rondkyk.

Oor ‘n volgende duin raak ‘n groep agter en ons moet wag. Sou uitvind een van die manne het bietjie skerp gedraai en sy band het afgekom. Met ‘n man soos Ramon is dit sommer kinderspeletjies om ‘n wiel in die sand te ruil en ons verloor nie veel tyd nie.

Dan, net vir die pret, stop Ramon en sê die manne wat wil, kan die duin hier langs ons aandurf.

Moet erken, dis nie sommer net jou alledaagse duin nie, hy is wild !! Min van die manne wat hom wel aangedurf het, kon dit maak tot bo. Kon sien die spoed was te min en jy moet hom poeier, ek bedoel POEIER om bo uit te kom !!!

Ons volgende stop is Mobi Dick se blaasgat waar ons snacks sal geniet en bene rek. Dis ‘n gat in die rotse wat die water hoog laat spuit met elke golf wat inkom.

Die terrein verander na redelike rotsagtige pad as ons nader aan die see kom. Net deur die kloof is die blaasgat al sigbaar.

Mobi Dick blaasgat

Ons stop en geniet ‘n snack en ‘n koeldrank, of was dit bier en wyn ? Dit was baie welkom en almal kuier rond en deel die ervaring van die oggend.

Van hier af is dit verder die woestyn in, tot by Saddle Hill Suid. Dit was waar Mose Kahan en sy mense die blink klippies kom uithaal het, en toe die klippies minder raak, die plek net so gelos en verlaat het. Selfs die toerusting en masjienerie is net so hier gelos.

Nog net ‘n paar sinkplate van ‘n gebou se dak sigbaar
Die manne kyk of hulle hom weer kan laat loop ?!?!

Ons vat die duine terug kamp toe en die radios is redelik stil, almal besig om die prentjies en ervarings van die dag te verwerk. Kan dit nie beskryf of op fotos vaslê nie, daar is te veel emosie by betrokke.

Dis 16:30 as ons afkyk na die roete langs die see, die pad waarlangs ons vanoggend gekom het. Ons stop eers ‘n weile en moet die prentjie verewig. Ons is geseënd en bevoorreg !!

Ons ry een een die duine af tot langs die see en haal eers weer asem, voor ons die paar kilometer terug kamp toe ry.

Aan die see-kant van die kamp aangekom, wil ek nie dadelik kamp toe ry nie, wil die son van hier naby die see af sien ondergaan. Vier van die voertuie stop ook hier langs my, terwyl die res kamp toe ry. Dis baie koud as die wind sterk waai en ons kruip agter die voertuie weg. Gelukkig is daar altyd ‘n ietsie om jou van binne af warm te maak, soos ‘n OBS.

Hollies en Martin

Dis al sterk skemer en die son wil-wil op die horison verdwyn, as iemand roep : Daar is hy, daar’s hy, die wolf !!! Gelukkig is Ramon saam met ons en hy kan sy oë nie glo nie. Die strandwolf draf hier by ons verby, gaan staan ‘n paar sekondes en kyk na ons voor hy rustig aandraf en agter die duin verdwyn. ‘n Oomblik wat nie gou vergeet sal word nie !!!

As die son sy kop neerlê, raak dit weer stil. Almal staar oor die see, elkeen besig met sy eie gedagtes. Die son sak oor ‘n dag in my lewe wat vir lank onthou sal word!

Die vuur brand al lekker as ons by die DEN instap. Gaan vannaand weer lekker kuier as almal hulle ervaring van die dag oorvertel. Die kos wat die kokke voorsit smaak na nog. kan proe dis nie hulle eerste keer nie.

Ons gaan kruip eers laat aand in na ‘n lang kuier in die DEN.

  • Leave a reply