Dag 12 (Oggend)

Vrydag 1 Mei 2015 (Oggend)

Almal is weer vroeg op, aangejaag deur die opgewondenheid van wat voorlê vir die dag. Ons is klaar met ontbyt en wag in die sonnetjie vir Ramon om die voortou te kom neem. Ons ry 08:30 en gaan vandag die noordelike gebied verken.

Die terrein is meer bergagtig met die ongelooflikste nutuurtonele wat hulle telkens voor jou afspeel. 

Ons eerste stop is by die oorblyfsels van nog mynaktiwiteite. Hier is ‘n vaatjie wat die weersomstandighede trotseer en nog in goeie toestand is. Hierdie vaatjies is gebruik om vars water hierheen te bring. Die bote het tot naby die stand ingekom, die vaatjie aan ‘n os vasgemaak en beide oorboort gegooi. So kry die delwers vars water en vars vleis!

Van hier af is dit verder Noord, in die rigting van Spencer baai. Dis by tye redelike klipperige pad.

Dan, oor die volgende bult, lê Spencer baai voor ons met Mercury eiland regs in die baai, sowat 800m die see in.

Die eiland het sy naam gekry vanweē al die grotte en tonnels in die rotse onder die water wat, as die branders inkom, die gevoel gee dat die eiland skud. Dit was jare terug ‘n ryk guano oesgrond, maar is later as ‘n bewaringsgebied verklaar. Die eiland huisves ongevver 16 000 pikkewyne, 1 200 malgasse en 5 000 kormorante. Daar is ‘n navorsingstasie op die eiland wat deurgaans beman word.

Navorsingstasie op Mercury eiland

Ons ry om die baai tot by die rots berg aan die punt van die baai. Die flaminke baai lekker in die water en vlieg eers op as ons naby hulle stop.

Ons stop aan die voet van die rotse, moet hier uitklim, want ons gaan die skeepswrak aan die agterkant besoek. Dis sommer met die opklim slag en jy die beendere sien, dat jy besef, hierdie is harde wêreld !

Die manne se speelgoed

Dis die Otavi, ‘n skip wat guano hier kom oplaai het en gestrand het in 1945. Hy word sedertdien “opgepas” deur ‘n groot kolonie robbe.

Van hier af is dit verder ry, na die brakwater fontein waar die gemsbokke water suip. Die fontein is eintlik net ‘n baie klein poelletjie water hier in die woestyn, maar gee lewe vir hulle wat varswater nodig het. ‘n Bok sal ure neem om genoeg water uit hierdie druppels te kan inkry, maar hulle oorleef.

Dis ook hier waar hierdie spesifieke spesie van die tros vygie gesien kan word, die enigste plek ter wêreld waar hy voorkom.

Hier is ook ander lewe, plante en diere, al moet hy sy kop in die sand steek om die hitte van die son te oorleef.

Ons volgende stop is On Top of the World.  Dis ‘n baie hoë duin, naby die see, met ‘n steil helling tot in die water. Jy het ‘n ongelooflike uitsig van hier bo af !!

Ons laaste stop vir die oggend is die wrak van die United Trader. Dis ‘n skip wat 700 ton plofstof op gehad het en in 1974 hier gestrand het. Dit was te gevaarlik om die plofstof te herwin en daar is besluit om die skip op te blaas. Die ontploffing het 4.2 op die richterskaal geregistreer en die trillings kon tot in Lüderitz gevoel word. Die skip se stukkies is oor ‘n 5 km radius versprei en oral in die sand te sien. Merkwaardig is die anker ketting wat heel gebly het, en die manne sit/staan en kyk in ongeloof daarna.

Nou eers terug kamp toe, gaan vanmiddag later in die duine speel. Op pad terug ry ons by die berg verby met die opvallende swart graniet rif wat oor hom loop. Dis Clara Hill,  vernoem na Mose Kahan se vrou, Clara.

Terug by die kamp laat weet Ramon dat ons ‘n halfuur het om reg te maak vir die middagsessie. Gaan lekker speel in die duine.

Leave a reply