Dag 13

Saterdag 2 Mei 2015

Almal is vroeg uit die vere. Ons moet pak en gaan ontbyt eet. Ramon het gesê hy wil nie later as 08:30 in die pad wees nie.

Ons is so uur in die pad toe ons halt geroep word. Iemand se voertuig se band het afgekom. Gelukkig gaan die ruil vinnig en almal is weer mobiel.

Dis as ek in my tru spieëltjie kyk en die see op die horison sien, dat ek besef ons is op pad uit. Dis nie ‘n lekker gevoel nie. Die sand en die nuwe mense wat ek ontmoet het, het onder my vel ingekruip.

Ek het werklik my voertuig leer ken, hier in die duine. Moet erken, hierdie trip maak jou gou nederig, vat net een misstap om vas te val en uitgehelp te moet word. Nie altyd goed vir die ego nie, maar voel gou weer beter as self Ramon een of twee keer sukkel. Hierdie Namib is nie jou man se maat nie en jy leer hom gou respekteer.

Dis as ons uit die duine op die harder pad kom dat die manne hulle planne begin verander. Ons het baie vinniger teruggery as oorspronklik beplan. Oor die radio praat almal van huiswaarts ry, gaan nie soos beplan almal weer by Obelix slaap nie.

Op dieselfde plek waar ons bande afgeblaas het met die inkomslag, is almal se kompressors uit, bande word weer styf gepomp. Dis net voor 4 en daar word redelik haastig gegroet, van die manne wil nog vêr ry voor die son sak vanmiddag. Ek en Anton bly by ons beplanning en ry terug Obelix toe.

Ons gaan eet die aand by die bekende Barrels restuarant. Die atmosfeer is cosy  en die plek is stampvol. Die eienaar sê ons is welkom om by die kroegtoonbank te sit en ‘n ete te bestel.

Die beste Eisbein wat ek in my lewe geëet het. Ons praat vandag nog oor daardie aand se ete, dink die Namib trip  en die lekker atmosfeer van die plek het ‘n groot bydrae gelewer in die smaak van die kos.

Ek sukkel om aan die slaap te raak, bang ek skrik wakker en die afgelope dae was net ‘n droom. Ek is bevoorreg om dit te kon doen, sal dit weer doen!

Leave a reply