Dag 14

Sondag 3 Mei 2015

Ons is redelik vroeg op, Anton wil nie laat wegkom nie. Ek laai die kampgoed wat in die stoor was terug in die bakkie en haak die waentjie. Die 480 km tot op Sesriem is ‘n stywe stootjie, veral in ag genome dat meer as driekwart van die pad grondpad is.

Ons gaan nie ontbyt eet nie en groet van Anton en Magda, jammer hulle kan nie saam verder toer nie. Ons gaan eers gou ‘n paar aankope doen, waar ons nou gaan is winkels maar skaars.

Die 110 km teerpad terug tot by Aus gaan vinnig. Ons is ook gelukkig om die woestynperde sommer langs die pad te sien, Ons het tyd, dis half tien en ons besluit om gou af te draai na die uitkykpunt. Ons is gelukkig om nog ‘n klomp perde, ‘n paar gemsbokke en volstruise by die suiping te sien.

By Aus draai ons Noord op die pad na Sesriem via Helmeringhausen. Ook ‘n bekende pad vir my, hierdie 350 km grondpad. Die pad toestand is goed die meeste van die tyd en ons vorder vinnig tot by Helmeringhausen waar ons brandstof volmaak en ‘n koeldrank en ietsie te ete koop. 

Ons ry van hier af oor Betta en die landskap bly verander, elke deel ‘n besonderse mooi aan homself.

Dis as jy die sandduine aan die voet van die berge begin sien dat jy weet, dis nie meer ver nie.

Dis net na 4 as ons by Sesriem aankom. Die kampplekke is vol vir die aand. Hulle het wel plek more aand en ons bespreek vir een aand. Sal vanaand by Sossus Oasis gaan plek soek, net oorkant die pad by die pertolstasie.

Hulle het gelukkig nog twee oop staanplekke en ons betaal vir die aand. Dis baie netjiese kampplekke, elkeen met ‘n sement blad onder ‘n afdak met sy eie opwas en ablusie. Hier is krag ook.

Die grond is hard en klipperig en ek sukkel om die penne ingekap te kry. Sal maar moet belê in daardie boor waaroor ek al lankal praat, hou nie van sukkel met penne inslaan nie !!

Dis ‘n ongelooflike aand as die volaan oor die berg sy verskyning maak, terwyl die son die horison in die weste rooi inkleur. Net die Skepper kan hierdie prentjie so aanbied, ek voel geseënd !!

Na die braai is ons dadelik bed toe, die dag was lank en het sy tol geëis. More moet ons vroeg op, wil inry Sossusvlei toe en ons moet nog kamp skuif ook !

  • Leave a reply