Dag 15

Maandag 4 Mei 2015

Ons het goed geslaap en ek sit buite en teug aan my koffie as Moeksie haar kop by die tent uitsteek. Ons moet wikkel, wil afslaan en deurry Sossusvlei toe. Gaan die waentjie sommer in die parkeerarea by Sesriem los, sal kom kamp opslaan as ons terug kom.

Gelukkig word ‘n staanplek hier aan jou toegeken en ons hoef nie te worry  dat die lekker plekke gavat gaan wees nie. Ons was al hier, het ‘n groep deur Namibië gebring en sommer 3 nagte hier oorgeslaap.

Dis net na 8 as ons die waentjie afhaak en deur die Namib-Naukluft Nasionale Park se hek ry, op pad Sossusvlei toe. Die Sesriem kamp is deel van die Namib-Naukluft Nasionale Park en word deur parkeraad bestuur. Die 60 km teerpad, met ‘n spoedbeperking van 60 km/uur, vat jou tot by die parkeer area net voor Sossusvlei. Die duine aan weerskante van die oop vallei is asemrowend. Dis die loop van die Tshauchab rivier.

Duin 45

As ons net voor 10 by Sossusvlei aankom, is daar al heelwat mense op die duin. Lyk soos miere hier van onder af. Hierdie duin is bekend as Big Mamma Duin.

Ons ry die 4×4 paadjie van die parkeer area tot by die piekniek plekke en soek ‘n lekker koelteboom. Moeksie het vir ons ‘n piekniek mandjie gepak. Ons gaan nie vandag die duin klim nie, was al verskeie kere daar bo. Was ook al hier toe die vlei hier agter die duin vol water was, nogal ‘n ander gesig gewees. Dis die Tsauchab rivier wat hierdie pan soms vol maak as dit reën.

Big Mamma Duin

Ons gaan ook nie Dooie vlei toe stap nie, was al daar en ons is lui. Ons gaan nie baie lank hier kuier nie, moet nog gaan kamp opslaan.

Dis net na 2 as ons begin opslaan. Ons het een van die lekker staanplekke, een onder ‘n ou groot doringboom. Hier gaan ons lekker kamp !!

Dis as ek lekker hier onder die boom sit en ‘n paar beskuit krummels mord dat die voëls lewe kry en amper bo-op jou kom sit om ook ‘n krummeltjie te kry. Selfs ou tok-tokkie kom die skaduwee van die boom opsoek.

Ons kuier rustig hier onder die ou grote wat lekker koelte gee. Die son raak moeg en staan nader aan die horison op die weste.

Die stoele word braaiplek toe geskuif, gaan vannaand weer lekker hier om die vuur kuier, net ek en Moeksie.

Ek is nie oorhaastig nie en steek eers die vuur aan as die horison rooi ingekleur word, ‘n mooi gesig. Die stilte bring ‘n onbeskryflike gevoel van saligheid, vergenoegdheid as ek hier sit en die dag vaarwel toeroep.

Dis ook net dan wat die maan weer sy opwagting maak, hier van agter die ou groot bome uit.

Ek het lanklaas sulke lekker tjoppies geëet, al moet ek dit self sê, perfek gebraai. Ek kuier tot laat as ek nog kole op die vuur gooi nadat Moeksie gaan inkruip het. Voel vir my ek kan vir ewig hier bly, die ongereptheid, natuurskoon en stilte.

As die jakkals in die verte tjank, is dit tyd vir my om ook die slaap te gaan omhels.

Leave a reply