Mabua se leeu

Dit is Januarie 2019 en ek en Moekdie het ‘n toer deur Namibië beplan, na n besoek aan die Kgalagadi in Mei. Ons is bespreek by Twee Rivieren, Mata Mata en Nossop. Wou graag Mabuasehube ook doen, maar kon nie plek kry nie. Twee couples vriende, Martin & Rika en Ewald & Carol gaan saam Kgalagadi toe en draai terug as ek en Moeksie Namibië toe. Dan is dit Namibia-Suid, wil weer ‘n paar ou bekende plekke gaan opsoek. Was al baie in Namibië en daar is min plekke wat ek en Moeksie nog nie gesien het nie.

My selfoon lui, dis Ewald. Hy het plek gekry in Mabua vir sewe nagte en wil weet of ek saamgaan? Ek huiwer eers, het klaar die trip deur Namibia bespreek en betaal. Ek sal met Moeksie praat en hom laat weet. Dit vat nie lank vir Moeksie om my te herhinner dat Mabua al lankal op my bucket list is nie. Ek bel vir Ewald na ‘n paar minute en sê ons gaan saam!

Die Kgalagadi was mos eers twee parke, die Gemsbok Nationale Park van Botswana en die Kalahari Gemsbok Nationale Park van Suid Afrika. Die heining tussen die twee parke is verwyder in 1999/2000 om een van die eerste oorgrens parke te word. Die verre Oostelike gedeelte van die oorgrenspark staan bekend as Mabuasehube en is ongerep.

Ek skakel met al die plekke in Namibia en kanselleer my besprekings. Was BAIE gelukkig toe almal my volle betalings terugbetaal!

Ek en Moeksie vertrek Woensdag 15 Mei uit Johannesburg waar ons die karavaan stoor en die waentjie haak. Waar ons gaan ry is geen plek vir ‘n gewone karavaan nie, rowwe paaie.  Ons ry deur en kry vir Ewald en Carol by Oranjerus kampterrein buite Upington. Al baie hier oorgebly, ‘n netjiese oord, op die Oranjerivier.

Nadat Ewald ‘n paar running repairs moes laat doen, ry ons die Vrydag tot in Twee Rivieren waar Martin en Rika by ons aansluit.

Ons kuier lekker in die Kgalagadi en kom weer Saterdag 1 Junie by Twee Rivieren uit. Martin en Rika vat die pad terug Johannesburg toe en die res van ons, na n oorslaap, ry deur Tsabong na die Oostelike ingangshek van Mabuasehube.

Die rit was nie sonder problem nie, maar dis ‘n storie vir n ander dag, ‘n laaaang storie!

Die opgewondenheid is groot as ons eindelik ons kamp opslaan by Khiding Pan no 1. Dis n kampplek met ‘n A-raam afdag uit balke gemaak met n betonblad onder die afdak, ‘n Long drop en ‘n stort so 30m van die A-raam af, effe die bos in. Daar is twee lekker groot doringbome so 20m uit mekaar, waar ek onder die een en Ewald onder die ander een kamp opslaan. Die wat die Botswana kant van die Kgalagadi ken, weet hulle kampplekke het geen heinings nie en die kampplekke lyk almal redelik dieselfde.

Hollies en Moeksie se kampplek
Ewald en Carol se kampplek

Nou, ek het al BAIE toergroepe in die wildernis ingevat, ongerepte dele waar wilde diere om die kampplekke vrylik rondbeweeg. Daar is ‘n paar BAIE belangrike reëls wat ek BAIE streng op is en nougeset toepas as ek groepe uitvat. Later meer hieroor.

Ons wag vir die son om te sak
Jakkals kom sê ons kan vuur aansteek

Dis net voor die son sak en ons neem van die pan wat hier en daar ‘n stofwolk oplewer waar die diere in die sand skrop. Ou jakkals wat hier voor ons in die pad kom staan, is ‘n aanduiding dat die vuur aangesteek kan word.

Khiding pan
Khiding pan

Ons maak die vuur so 10m van Ewald se karavaan af. Ek en Moeksie bring ons stoele en TV skinkborde en ons kuier almal lekker om die vuur. Dis my beurt om te braai en die hoender sosaties lyk na die regte opsie. Ons het lankal tred verloor met tyd en die STRENG reëls wat ek gewoonlik nougeset nakom (laatmiddag klaar stort, eet voor sononder, nie alleen in die aand longdrop toe nie, ens, ens) is glad nie in ons gedagtes nie.

Nou kuier ons lekker

Dis net voor nege as ons klaar gebraai het en ek dra die skottelgoed waentjie toe. Moeksie volg en begin die skottelgoed was. Ek stap terug om nog ‘n paar los items te gaan haa, sodat Moeksie kan klaarmaak en kan gaan inkruip. Carol is reeds karavaan toe en ek en Ewald wil nog ‘n laaste enetjie om die kampvuur geniet.

Dit is ‘n mooi windstil aand en die maan is nog nie op nie, redelik donker hier buite. Dis met die terugstap vuur toe, dat my oog die siloeët hier links van my opmerk. Lyk soos ‘n leeu wat daar staan! Toe ek my weer kon kry, staan ek langs Ewald wat nog rustig hier by die vuur sit en wag dat ek moet kom aansluit. Hy het ‘n ordentlike spotlight langs sy stoel en ek sê vir hom wat ek dink ek gesien het : Hier was nou net ‘n moerse maanhaar hier by ons!! Hy vat die spotlight en vee die omgewing met die lig, daar is niks. Hy sê ek het my verbeel.

Ek vat maar die laaste paar goedjies, los net my stoel, TV skinkbord met my selfoon en pyp op, want ek kom nou weer terug. Die sowat 12m terug waentjie toe, voel vreemd, kan nie ophou rondkyk om die leeu te soek nie. By die waentjie sê moeksie sy ken my, as ek sê daar was n leeu, dan was daar ‘n leeu.

Haar woorde nog in die mond toe ek die maanhaar hier langs die waentjie sien uitstap. Dit was sekondes toe is ek en Moeksie in die tent, alles net so buite gelos. Ek skreeu vir Ewald : Hier is die leeu!  Hy is soos n vuurpyl in sy karavaan in. Hy skyn met die spotlight na ons kant toe en dis toe dat vuilbaard nommer twee ook sy verskyning maak.

Dis die onophoudelike giggle uit die rigting van Ewald se karavaan wat aankondig die adrinalien loop hoog! Selfs ek en Moeksie is bewerig van opgewondenheid en skyn heeltyd met die flits deur die skrefie van die tent se ritsluiter om die maanhare dop te hou. Wil fotos neem maar my selfoon lê nog langs my pyp, op die TV skinkbord, by die vuur. Dis toe Ewald weer ‘n slag na ons kant toe skyn, dat een van die maanhare tussen ons en hulle kampplek staan. Hy gee ‘n mooi brul en jy voel die trilling as dit deur die lug trek.

Met die opgewondenheid begin die nood druk en ons porta pottie is nog nie gereed gemaak nie. Ek vat sommer die skottelgoed water wat Moeksie in die tent ingebring het en gooi dit in die porta. Moet sê die sosatie reuk wat uit die porta pottie gekom het deur die nag, was ‘n vreemde reuk.

Ons is rustiger en ek begin plan maak om my pyp en selfoon by die vuur te gaan haal. Gelukkig is my bakkie reg langs die waentjie parkeer en ek vra vir Ewald om my te help skyn om die posisie van die leeus te bepaal. Ek gebruik die kans toe beide leeus aan die anderkant van die A-raam stap om in die bakkie te spring. Ek ry stadig vuur se kant toe en stop langs die TV skinkbord, draai die venster af en kry my pyp en selfoon.

Leeu en hiëna se kind is mos bekend daarvoor om goed weg te dra wat buite gelos word, veral as die braaivleis reuk / smaak aan die items gelos word deur jou hande wat daaraan gevat het. Ek het besluit my selfoon en pyp is belangriker as die stoel en die TV skinkbord wat ek net daar los.

Ek is terug in die tent, maar skyn kort-kort buite om die leeus dop te hou. Dis laataand as ons almal stil word en tot ruste kom. Ons geniet die kort-kort gebrul van die leeus hier om ons en ek wonder of hulle gaan verby beweeg, of dalk hier langs ons kom lêplek soek. Dit word later stil en ek neem aan hulle het aanbeweeg. Wat ‘n ervaring!!

Ek was verstom om die volgende oggend die spoor van die leeu te gaan bekyk wat net 7m van my af was gisteraand. Dis eers toe dat ek besef ek is gelukkig, baie gelukkig. Kon maklik aandete gewees het as vuilbaard werklik honger of omgekrap was.

Ek dink almal droom om so interaksie met wilde diere te ervaar, veral leeus, as ons in die wildernis kamp. Dit gebeur BAIE, kyk maar na die plasings op facebook en die talle u-tube videos wat die rondte doen. Mense sal dan ook sê dit is leeus wat mense gewoond is en jou nie sommer sal aanval nie. Mens moet maar versigtig wees en by die reëls van die natuur hou. Dit bly WILDE diere en jy moet hulle respekteer. Baie mense het al sleg tweede gekom as hulle vol brawade is en onverantwoordelik optree.

Gelukkig kan ek die storie vandag vertel, dit kon maklik anders uitgedraai het. Nodeloos om te sê dat ons die res van die tyd teen laatmiddag klaar gestort was en teen sononder klaar geeët. Het wel lekker om die vuur gekuier saans, maar baie meer op ons hoede en waaksaam.

  • Ek en Carol kan alles beaam. Goed vertel Hollies. Ek wil ook byvoeg dat die betrokke aand was die sonsondergang pragtig. Dit was Die Heer se skildery met al die kleure. Dit het ook bygedra dat ons so rustig gewees het.
    Dankie Heer dat ons saam met Hollies en Moeksie dit kon meemaak.

  • Leave a reply