Dag 16

Dinsdag 5 Mei 2015

Die springbokkies het al kom inloer as ons by die tent uitkom. Vandag ry ons 350 km tot op Swakopmund. Die 80 km pad tot op Solitaire kan soms ‘n uitdaging wees, klipperig en sinkplaat.  Daarna is dit eers oor die Gaubpas en dan die Kuisebpas, af na die vlaktepad deur die woestyn. 

Dis net voor 11 as ons by Solitaire intrek. Gaan eers barandstof volmaak en ietsie kry vir die hol-kol op die maag. Moet sê, die winkeltjie hier is redelik goed gestock,  ‘n ietsie van alles. Veral die eetgoedjies lyk smaaklik op die tafeltjies waar die mense sit en eet. Ons gaan sommet ‘n take away  vat, nog ‘n ver pad om te gaan.

Die wêreld van hier af verander nogal vinnig, die eerste deel vlaktes en dan meer bergagtig met die passe wat ons moet oor. Dis nie uitdagende passe nie, eintlik maklike ry pad en pragtige natuurskoon.

Dis net ‘n ent anderkant die Kuisebpas, as jy die vlakte ingaan, dat die woestynpad begin. Dis ‘n lekker breë grondpad en ons vorder vinnig. Van die laaste dele is die pad met sout bedek en dit voel eerder of jy op ‘n teerpad ry as op grond. 

Dis net na 2 as ons Duin 7 in die verte sien, wat aankondig ons is nou naby Walvisbaai.

Duin 7

Van hier af is dit net oor die 30 km teerpad tot in Swakopmund. Die kontras van see en woestyn bly vir my iets besonders as jy op hiedie pad langs die see ry.

Ons boek net voor 3 in by Alte Brücke, gaan twee aande hier slaap. Dis een van die beter kampplekke wat ek al in Namibië by gekamp het. Die staanplekke het lekker groen gras en elke staanplek het sy eie luukse opwas en ablusie. Dis rêrig 5 ster !!

Die koel luggie na ete maak dat ons nie te lank na die braai gaan inkruip nie. Dit was weer ‘n mooi dag!

Leave a reply