Dag 18

Donderdag 7 Mei 2015

Geen haas vanoggend nie, ry net 160 km vandag waarvan slegs 30 km grondpad is. Ons stop eers by Spar en doen aankope vir die volgende paar dae. Ons vat pad Windhoek se rigting, slaap vannaand by Spitzkoppe.

Ons draai 25 km voor Usakos Noord na Spitzkoppe. Dis ‘n mooi grondpad en ons stop net na 12:00 by ontvangs.

Ons betaal vir een aand en die man by ontvangs gee ons ‘n kaart en dui aan waar ons kampplek is. Daar is nie water by die kampplekke nie en ons kan hier by die lapa agter ontvangs kom water haal. 

Dis Spitzkoppe Natuur Reservaat is veral bekend vir die koppies met hulle kenmerkende spitse en die ongelooflike rotsformasies, wat elke uur verkleur met die son se strale wat anders op hulle skyn. Hier is heelwat Boesmantekeninge en ‘n aantal voetslaan paadjies ook.

Die staanplekke hier is baie ver uit mekaar. Jy kan nie die volgende kampers sien nie, wat dit lekker privaat maak. Hier is ook geen krag nie.

Ons kampplek is perfek geleë, onder langs ‘n rotsbank, langs die droë rivierbedding met lekker koelteboompies. Ons kamp is opgeslaan net na 13:00. Dis soos ‘n droom wat waar geword het, wou nog altyd hier kom kamp het ! Moes dalk langer hier gebly het as net een nag.

Die longdrop  is ‘n entjie van die kapplek af, dink hy word dalk deur ‘n ander kampplek gedeel. Die uitsig as jy hier sit is terapeuties, niemand kan jou sien nie en jy hoef nie die deur toe te maak nie.

Die Logdrop
Die view as jy sit

Die middag ry ons deur die park, eintlik ‘n baie klein park, al om die hoë koppe hier rondom ons. Die hoogste kop troon amper 700m bo die grond uit. Die rotse is ongelooflik en jy wil van elke rots ‘n paar fotos neem. Veral as jy ‘n paar meter aanbeweeg en terugkyk, die kleur het so verander, kan nie glo dis dieselfde rots nie.

Ons ry by die ontvangs langs om water te gaan haal vir skottelgoed en genoeg vir ‘n lekker stort. Die lapa is ‘n netjies ingerigte kuierplek waar jy deur die dag of vannaand lekker kan kom kuier. Met die stortsakke vol en genoeg back-up water ry ons kamp toe.

Terug by die kamp kry ons die stort reg, gaan vannaand lekker hier onder die sterrehemel staan en skoon word. Ek het een van daai swart sakke wat lekker in die son lê en warm bak.

Net voor son onder ry ons weer ‘n draai. Hier is ‘n groot rots met ‘n swemgat aan die bokant. Ons stop en klim die redelike maklike entjie teen die rots uit. Dis as ek hier bo kom dat ek nie my oë kan glo nie. Hallo Charl en Christa, sê ek as hulle my nie gewaar nie.

Charl was my baas by Sasko vir baie jare en is ‘n jaar voor ek klaar gemaak het weg. Die wêreld is klein, BAIE klein en ek dink terug aan ‘n ander vriend van my wat ek eendag by Rooi drom in Kaokoland raakgeloop het, ook so toevallig soos nou.

Hulle is van die Paarl en toer met sy motorfiets deur Namibië. Slaap ook net vannaand hier en ry more Swakop toe. Ons nooi hulle om vannaand by ons te kom kuier en braai.

Baie dassies in die skeur agter ons kampplek

Dis al donker en die vuur brand al as ek die gedreun van ‘n motorfiets hoor. Klink of hy nader kom, dan weer verder.

‘n Hele ruk later stop Charl en Christa hier by ons. Hulle het eers bietjie verdwaal in die donker en ook ‘n slag ‘n plasie gekoop – gelukkig nie vinnig gery nie – en in die dik sand gegly. Gelukkig geen beserings of skade nie.

Ons kuier ‘n hond uit ‘n bos uit en geniet mekaar se stories. Ons praat van die ou dae en roep verskeie kollegas se name weer op. Die kuier gaan lekker en hulle is eers laat weg. Lekker om hulle weer te sien.

Die tyd het aangebreek, die stort roep. As daar nou ‘n maklike manier is om Moeksie te bederf, dan is dit om haar ‘n lekker warm buite stort te laat geniet. Dis as sy lekker op die stoel gaan lê na die stort, in die handoek toegedraai, dat ek weet sy voel bederf.

Moet bieg, die stort was meer as wat ek verwag het, lekker warm water en genoeg daarvan. Het op ‘n stadium half skuldig gevoel om net die water so oor my te laat spoel. Nou gaan ek lekker slaap.

Leave a reply