Dag 19

Vrydag 8 Mei 2015

Die koffie hier tussen die rotse smaak vanoggend anders, lekkerder as ander kere. Ons pak stadig op en sĂȘ vir mekaar ons moes nog ‘n aand hier oorgeslaap het, maar die pad roep. Ons is net voor 10 klaar opgepak en reg om te ry.

Vandag  se 220 km is weer meestal teerpad na Erindi Privaat Wildreservaat. Ons ry deur Usakos tot in Karibib waar ons weer noord draai na Omaruru. Van daar is dit 70 km grondpad tot by Camp Elephant Erindi.

Erindi is in 1986 deur die Joubert broers gekoop as ‘n plaas vir beesboerdery. In 1992 het hulle 3 000 hektaar toegespan en met wild begin boer. In 2008 is dit omskep na ‘n 5 ster eko-toeriste attraksie.

Ons boek net na 13:00 in en is verbaas oor hulle tarief struktuur. Hulle vra per staanplek en of jy een of ses gaste is, dis die prys. Min plekke wat dit nog so doen.

Die staanplekke is ultra luuks !! Elke staanplek het ‘n pragtige grasperk waarop jy kamp met ‘n skadu afdak waaronder jou voertuig staan. Die privaat ablusie is ‘n opwas buite met ‘n goed toegeruste kombuis en badkamer binne. Hierdie is werklik 5 ster !!

Die sowat 14 chalets is in ‘n halfmaan om die watergat gebou met die kampplekke  net agter langsaan die chalets. Ons slaan kamp op en stap watergat toe. Ons gaan sit op die bankies in die koelte en neem baie fotos van die diere wat kom water suip, sowat 30m van waar ons sit. Nou verstaan ek hoekom almal van die plek praat, ‘n ware paradys.

Hoewel hier nie buffels is nie, is die res van die Groot 5 en selfs wilde honde hier op Erindi. Hier kan mens sommer vir ‘n week of meer kuier !!

Terug by die kamp begin ek vuur maak as die horison rooi ingekleur word, lanklaas so rooi een gesien.

Ons kan nie uitgepraat raak oor die plek nie, redelik duur as jy net twee mense op ‘n staanplek is, maar wel die moeite werd. Sal verseker weer hierheen terugkom.

Ons is nie haastig bed toe nie en sit nog lank en gesels om die vuur. Dit was weer ‘n mooi dag.

Leave a reply