Dag 20

Saterdag 9 Mei 2015

Ons is redelik vroeg uit die vere, wil vandag in die rigting van die Kgalagadi ry en slaapplek soek voor die Mata Mata grenspos vir ‘n dag of drie. Die afstand kan enige iets tussen 550 km en 650 km wees, sal kyk waar ons oorslaap.

Ons ry die 45 km grondpad tot by die B1 waar ons Suid draai, Windhoek se kant toe. Op Windhoek doen ons aankope vir 5 dae, weet nie wat ons op pad gaan kry nie en maak sommer voorsiening vir die Kgalagadi ook.

Die reĆ«ling om by die Mata Mata grenspos terug SA toe te ry, is dat jy minstens 2 aande in die park moet oorslaap met ‘n geldige bespreking. Kampe is redelik volbespreek hierdie tyd van die jaar en ons het lankal die bespreking gedoen, een aand in Mata Mata en een aand in Twee Rivieren.

Goed ge-stock vat ons pad na Mariental, gaan daar brandstof volmaak en dan oor Stampriet rigting Ghogas ry en kampplek soek. Dis teerpad tot op Stampriet waar ons Suid draai op die grondpad Ghogas toe. Dis meer ‘n rivier vallei, die Auob rivierbedding, waarin die pad gebou is, ‘n goeie grondpad en pragtige natuurskoon. Ek maak weer brandstof vol op Ghogas en die bestuurder van die garage beveel Red Dune gasteplaas aan, net 35 km verder.

Dis 16:00 as ons by die plaashuis hier langs die pad inry. Die eienaar ontvang ons vriendelik en vra of ons in die duine wil kamp of sommer hier op die gras in die werf. Daar is twee kampplekke in die duine en hier is genoeg staanplek hier op die gras, met ‘n netjiese geriewe en ‘n mooi ablusie. Hier is krag ook.

Ek en Moeksie kyk nie lank vir mekaar nie, het redelik baie duine gesien die afgelope tyd, sal die grasperk verkies. Ons betaal vir een aand en slaan kamp op.

Die opset hier is baie lekker en ons geniet die plaas atmosfeer. Die eienaar kom later oorgestap en vra voortydig verskoning vir die lawaai van more oggend. Daar is ‘n trok wat vroegoggend gaan kom skape laai en hulle mag ons dalk wakker raas.

Die hout is goedkoop en ons gaan vanaand braai, sommer ‘n kyk-vuurtjie ook maak en ek koop 2 sakke. Met die lekker geriewe hier, pak ons nie eens ons eie stoele uit nie, hier is alles. Die glasie wyn langs die vuur gaan goed af, die 610 km was ‘n lang pad. Dis lekker weer en redelik warm as ons lank na ete buite om die vuur sit en kuier.

Leave a reply