Dag 21

Sondag 10 Mei 2015

Dis vroeg oggend as ek die stemme in die verte hoor. Dis die mense wat die skaap kom laai het. Die blêr van die skape is nie ‘n geraas nie, dit klink soos plaas.

Ons lê bietjie in vanoggend en beplan die dag. Ons het nog een aand oor voor ons by Mata Mata moet inboek. Ons kan bel en hoor of hulle ‘n aand vroeër plek het vir ons, maar besluit daarteen. Het gehoor van ‘n ander wildreservaat, sowat 130 km van hier af en net 17 km voor die Mata Mata grenspos. Sal vanaand daar gaan kamp opslaan.

As ons eindelik op is, besluit ons om eers te gaan kyk hoe lyk die kampplekke in die duine. Sal terugkom en dan kom kamp afslaan. Ons ry oor die pad en deur die hek in ‘n oostelike rigting, soos die eienaar ons gister verduidelik het. Dis ‘n tweespoor paadjie met lekker dik sand. Na ongeveer 3 km kry jy die rooi duine hier voor jou. Die paadjie vurk en die bordjies wys Camp 1 en Camp 2.

Dis as ek die redelike steil duin uitry, dat ek bly is ons het nie met die waentjie hier kom kamp nie. Ons sou dit wel maak, maar met BAIE meer moeite, want die duinesand is dik en los. Die kampplek hier bo is primatief,  tog netjies met die basiese geriewe. Die uitsig is besonders en jy kan ver sien van hier bo van die duin af. Sal virseker lekker hier kan kom wegkruip van ‘n paar dae.

Ons slaan kamp af en gaan groet die eienaar. Ons ry die 130 km goeie grondpad, verder in die Auob rivier vallei af met sy pragtige natuurskoon. Dis net voor 2 as ons by die Kalahari Game Lodge inry. As jy by die ontvangs aankom, lyk dit soos ‘n oase in die woestyn met die groen gras hier voor om die swembad.

Ons boek in en ry na die kampterrein hier langs die lodge. Elke kampplek het ‘n sementblad onder ‘n afdak van latte gebou, glo dis meer vir die voertuie om onder te parkeer. Hier is krag en die gemeenskaplike ablusie is netjies en ruim.

Ons uitsig oor die Auob rivierbedding duine se kant toe

Dis na drie as ons duine se kant toe stap, glo die uitsig van bo af kan mooi wees. Die stappie is ook goeie oefening. Die asemrowende uitsig kan nie vasgevang word nie en ek staar vir minute om alles te probeer inneem. Die Kalahri bly maar mooi.

Ons kapplek links in die agtergrond met die Lodge regs

Ons stap terug lodge toe en besluit om ‘n lekker glasie wyn te kry en hier voor op die bankies te sit en geniet. Die springbokkies is mak en kom suip water hier naby ons.

Hier is ‘n klompie netjiese huisies langs die rivierbedding gebou. Die paadjies van die lodge na die huisies is netjies met houtstompe uitgemerk.

Ek kan sommer heeldag hier sit en die natuur geniet, dit bring ‘n rustigheid in my en ek voel vergenoegd. Ons is geseënd !!

Gewapen met genoeg hout is ons terug kamp toe. Vanaand is dit my gunsteling, tjops en braaibroodjie. Dis effe koeler as gisteraand as ons laatnag nog die Kalahari TV dophou, die vuurtjie hier voor ons.

  • Leave a reply