Dag 22 & 23

Maandag 11 Mei 2015

Vroegoggend is ons op, wil die son sien opkom van bo die duin af. Die Stanley is vol kookwater en die koffie en koppies gepak. Ons ry deur die rivierbedding tot bo-op die duin. Hier is ‘n stelasie gebou met ‘n groot oppervlak, glo dis vir groepe wat kuier. Ons klim op en wag vir die son.

Dis 07:10 as die eerste strale deurbreek. Die sonstrale sit ekstra smaak in die koffie, gee hom ‘n regte Kalahari smaak. 

Ons drink nog ‘n koppie “Kalahari” en neem ‘n paar fotos, voor ons ‘n draai deur die plaas ry. Lekker tweespoor paadjie in die dik rooi Kalahari sand.

Ons pak rustig op, dis net 17 km tot by Mata Mata. Dis net na 11 as ons by die grenspos stop. Dit gaan maklik deur die grenspos as al die dokumentasie in orde is. 

Ons boek in by die ontvangs in Mata Mata en gaan soek ‘n lekker staanplek. Ons is gelukkig om een te kry, hier onder een van die ou groot doringbome. Ons gaan ry ‘n draai laatmiddag en sien mooi diere.

Daar kom ‘n gevoel van verlange oor my as die horison rooi geskilder word deur die son wat sy kop neerlê. Ons toer is amper verby, wil nie hê dit moet eindig nie !!

Na ete is ons vroeg bed toe, die ou gewoonte in die wildtuin.

Dinsdag 12 Mei 2015

Na ‘n paar koppies koffie begin ons oppak. Die sonnetjie sit al hoog, maar ons is nie haastig nie. Die ongeveer 120 km pad na Twee Rivieren ken ek al baie goed. Die pad loop al langs en soms in die rivierbedding tot naby Twee Rivieren. Was al baie in die Kgalagadi, ‘n besonderse park. Ons eet brunch by die Auchterloni piekniekplek. Ons ry stadig en sien weer mooi diere.

Ons is net na 14:00 by Twee Rivieren en boek in vir die aand. Ons moet ook hier die oorgrens dokumente voltooi, het vansuit Namibië teruggekom na SA. Hoewel hulle by die Mata Mata grenspos dokumente nagaan, word dit by hierdie hek geprosesseer. 

Ons het besluit om nie weer vanmiddag te gaan ry nie, dink die afstand oor die afgelope dae begin my vang. Dalk is dit maar net die gevoel van die toer wat klaar is, wat my beetkry.

Dis ons laaste aand in Kgalagadi, more is dit huis toe. Sal vroeg in die pad wees en kyk of ons by Vryburg kan uitkom.

Ons braai en het weer vroeg gaan inkruip, moet krag kry vir more se lang stoot.

  • Leave a reply