Dag 9.

Dag 9. Maandag 27 Januarie

Ons is vroeg wakker, of sal ek sê, ons staan op tussen een van die slaap-wakker-slaap-wakker episodes, voor die son nog op is en oudergewoonte val die eerste paar koppies koffie in my keel af voor almal op is. Ons besluit om na koffie en beskuit ʼn ent te gaan ry en later terug te kom en brunch te kom maak. Daar is net twee roetes wat mens van Nossob af kan ry, Suid of Noord en Suid wen.

Ons ry met my Hilux, Magda en Moeksie agter in en Anton links voor. Die “links voor” het ʼn uitdrukking geword, as iemand praat van ry en jy wil saamgaan, dan sê jy dis reg, ek sit “links voor” menende jy gaan saam. Die sowat 20 km wat ons ry tot net voor Cheleka watergat lewer die normale op.

Ek het voor die toer vir my ʼn mis-sproei sisteem gekoop en hierdie hitte is net die regte omstandighede waar hy uitgetoets moet word. Daar is gelukkig ʼn kraan naby die boom waaronder ons sit langs die waentjie en ek vleg die sproeipypies aan die onderkant van die boomtakke deur, sodat daar ʼn groot oppervlak gedek word. Ek voel half skuldig om die water aan te sit, hier in die droogte, maar met die swembad in die agterkop besluit ek die water is nog nie kritiek nie. Die lafenis, as jy kaal bolyf op jou stoel onder die sproei sit, is onbeskryflik. NOU KAMP ONS LEKKER !!! Ook ʼn uitdrukking wat die mense wat al saam met my gaan kamp het, goed ken.

Terug by die kamp is die brunch ʼn groot bederf, spek, eiers, avokadopeer, brood, en ʼn paar stukkies oorskiet braaivleis. Ek is nie ʼn groot ontbyt mens nie, maar hierdie is iets waaraan ek gewoond kan raak, veral as dit elke oggend op hierdie plek bedien kan word, saam met dieselfde mense. Die besluit is om eers later weer te ry en Magda en Moeksie maak gebruik van die tyd om wasgoed te was. Die waskamer is netjies en ons is beïndruk met die sterretekens wat netjies op gelamineerde foto’s teen die muur uitgestal word. Die res van die oggend en vroeg middag bring ons in die kamp deur, stap gereeld hide toe om ty kyk of daar iets gebeur. Meeste van die tyd net die Jakkalse wat tussen die klippe by die watergat lê en wag vir die geleentheid om ʼn duif te vang, wat hulle gereeld regkry.

Ons ry later die middag Noord tot by Kwang watergat waar ons rustig raak. Aan die oorkant van die rivierloop lê daar drie leeu wyfies en hulle kry ook warm, want hulle lê rustig onder die koelteboom. Ek besluit om my “natuurkragte” in te span en vertel die ander ek gaan die leeus roep. Kom kietsie, kom oubaas se leeus, kom drink water, julle is dors, praat ek saggies in die bakkie. Die toeval speel saam, want net op daardie oomblik staan die een leeu op, kyk bietjie rond en kom reguit na ons toe aangestap om water te kom drink. Hy hurk hier reg voor ons by die watergat en die kameras kliek. As hy klaar gedrink het, stap hy terug na die oorkant waar daar ʼn boom omgeval en met ʼn boog op die grond lê. Hy klim op die boomstomp en nog baie foto’s volg. Ek dink aan die leeus wat rêrig kan boomklim.

Terug by die kamp sit die son nog redelik hoog en ons kuier verder onder die mis-sproei boom. Uit die hoek van my oog sien ek die man, vrou en baba aangestap kom. Hy haastiger as die vrou en baba en sy regterarm is voor hom uitgestrek in ons rigting. Toe hy naby is, eien ek die Parkeraad uniform, en my hart begin vinniger klop! Hierdie missproei gaan ons nou in die moeilikheid bring. Hy stel homself haastig voor as ranger Smith. Hy is nie baie gelukkig met die hout bo-op my bakkie nie. Waar het ek dit opgetel, weet ek dis onwettig en nog ʼn rits aantygings kom dit in Engels deur. Skielik maak die man se opgewondenheid sin en die hout, wat ek al by die ingangshek by Twee Rivieren plan mee sou maak, se spook word werklikheid. Het al skoon daarvan vergeet, want ek sal NOOIT doen waarvan ek nou beskuldig word nie, ek is te lief vir ons Parke om so iets te doen. Hy is verbaas toe ek hom vertel waar die hout vandaan kom en dat ek so, met die hout op die bakkie, by Twee Rivieren ingekom het. Hy is steeds nie oortuig nie en wil hê ek moet al die hout afhaal en brand en hy gaan die saak met die mense by Twee Rivieren opneem. Na onderhandelinge laat hy my toe om die hout agter in die kappie te laai sodat ander mense nie die stompe sien nie. Dit kan hulle dalk net aanmoedig om ”ook” stompe in die veld op te tel vir vuurmaakhout.

Die skildery aan die Westekant kry weer vorm as die son sak, dieselfde son net ʼn heel ander prentjie, mooi soos elke ander een. Ons gaan vat ʼn duik in die swembad om verder af te koel, en daar is heelwat mense wat dieselfde planne het as ons, want die swembad is redelik vol. Die mielies en butternut saam met die braaivleis loop soos jet, ook ʼn uitdrukking as dinge BAIE lekker verloop. Die hide bring ook sy kant later die aand toe ʼn bruin Hiëna sy opwagting maak en ʼn hele ruk vertoef. Weereens ʼn volmaakte dag!! Voor slaaptyd, besluit ons om die volgende dag Noord te ry tot by Union’s End en padkos moet pak vir die roete.

  • Leave a reply