Dag 10.

Dag 10. Dinsdag 28 Januarie

Die slaap was beter as die vorige nag en die hitte nie so erg nie, dalk die missproei of die laatmiddag swem wat ons afgekoel het. Ons pak die yskas met die nodige versnapperings en padkos, koue vleise en brood. Ons vertoef ʼn tydjie by elke watergat op ons pad na die Noorde, sien weer leeus en kom na 72 km by Lijersdraai piekniekplek aan. Die troppe gemsbokke, blouwildebeeste, rooihartbeeste, springbokke en verskeidenheid roofvoëls tot hier was mooi, met ʼn hele aantal Kodak moments. Daar is drie bewaarders wat net klaar geëet het en besig is om op te pak. Ons verneem na die roete vorentoe en word vertel van die klomp aasvoëls op ʼn karkas aan die regterkant, so 10 km verder. Die karkas is die van ʼn jong Gemsbok wat die vorige aand deur ʼn trop leeus van die omgewing gevang is. Ons moet mooi kyk sê hulle, want die karkas is ʼn hele ent weg van die pad af. Die bewaarders is eintlik op soek na ʼn ou groot maanhaar wat sieklik is en vra dat ons asseblief sy posisie moet aanmeld by die kamp as ons hom gewaar. Ons kan ook op die uitkyk wees vir hiënas, hulle het ʼn den in hierdie omgewing.  Die bakkie water wat Magda op die grond langs die tafel sit lok onmiddellik ʼn swerm voëls. Die dors dwing hulle om hulle vrees vir mense te laat vaar en kom sit oral op die tafel saam met ons, wip af waterbak toe en kwetter van dankbaarheid. Van die Koringvoëls was die stof van hulle vere af as hulle in die waterbakkie sit en bad. Water is LEWE, gaan dit deur my gedagte, die waarheid, as jy na die prentjie voor jou kyk.

Die padkos is tops en ons vat die pad verder Noord, oë gerig na regs, want ons wil nie die aasvoëls mis nie. Hierdie het ook later ʼn spreekwoord geraak – die aasvoëls soek. Ons hou op die hoofpad en besluit om met ons terugkeer die afdraairoetes te neem. Stop! Stop! Is Anton se aankondiging toe hy die aasvoëls op die karkas gewaar. Daar is baie van hulle, net jammer dis so vêr die veld in, darem help die vêrkykers om dit die moeite werd te maak om ʼn rukkie te bly.

Die volgende 62 km tot by Union’s End gaan maar moeilik, nie veel diere nie en die hitte saam met die padkos maak die ooglede swaar. Na die bene-rek en ʼn versnapering by Union’s End piekniekplek, met al sy waaierstert meerkatte wat vir foto’s kom poseer, vat ons die pad terug, so op die hitte van die dag.

Die pad terug raak eentonig en die ooglede BAIE swaar. Al die passasiers “mis die aasvoëls” as hulle koppe op hulle skouers tot ruste kom. Anton veg teen die gedagte, maar word gereeld wakker as hy sy kop skielik regop ruk, want ons is lankal verby die karkas met die aasvoëls en hy het “die aasvoëls gemis”. Ons nader die Lijersdraai watergat en Anton wys na ʼn beweging naby die watergat. Oortuigend praat ek van die stomp wat hy sien, toe die stomp in ʼn groot vlakvark verander as ons nader ry. Aan die oorkant staan daar ʼn Hiëna en ʼn entjie verder onder die boom lê nog een. Almal is vir eers helder wakker om die Kodak moment te geniet.

Die pad terug kamp toe raak lank en die dag loop uit.

Laatmiddag is ons almal weer swembad toe, ʼn heerlike opkikker en verfrissing na die lui langpad van vandag. Almal in en om die swembad deel hulle ervarings van die dag en die gesels is gesellig. Die pap en steak vir die aand is koningskos! Om die kampvuur klink dit soos elke ander aand, kan nie glo ons is so bevoorreg om dit te kan beleef nie. Nossob was goed vir ons en ons beplan om as groep weer hier te kom kuier, virseker.

  • Leave a reply