Dag 11.

Dag 11. Woensdag 29 Januarie

Ons is almal vroeg op en Magda en Moeksie was die skottelgoed. Dis hoe ons dit soms doen, na aandete word daar ontspan en gesels en die skottelgoed word netjies opgeruim maar gelos vir more. Die oumense het mos geglo jy was dadelik die skottelgoed, want as jy dalk siek raak deur die nag en die dokter kom besoek jou (daardie dae het die dokter na jou huis toe gekom in die aand as jy hom bel), kan hy dink jy is lui of vuil as daar skottelgoed rondstaan. Ons spot altyd en sê as die dokter by ons kom, sal hy ons jammer kry, want met die skottelgoed wat opgehoop het, sal hy dink ons is LANKAL siek.

Net na agt vat ons die 136 km pad na Rooiputs waar ons die volgende twee nagte sal kamp. Die pad na Dikblaarskolk piekniekplek vorder vinnig met heelwat diere wat Kodak moments bied.

Ons gewaar die brandsiek maanhaar, glo dis die een waarvan die bewaarders gister gepraat het, so 10 km Suid van Nossob en merk die posisie op die GPS. Hy is redelik vêr, maar met die vêrkykers kan ons duidelik sien hierdie leeu is maer en uitgeteer, wel ʼn groot meneer. Na die vleis en broodjies was my verrassing groot toe Magda ʼn pakkie koeksisters uitsit en ek kan nie glo dat sy dit so lank van my kon wegsteek nie.

Na die ete vat ons weer die pad, want ons moet eers terug Twee Rivieren toe om weer daar te gaan inboek by die Botswana deel van die kantoor en dan die 28 km terugry. Op ons pad ry ek by ʼn motortjie verby wat aan die kant van die pad staan, met ʼn man wat agter die bos langs die kar is. Natuur wat roep, dink ek. Toe Anton daar verbykom, merk hy die man is amper 100m die veld in. Hy stop en verneem by die vrou in die kar of alles reg is, waarop sy in ʼn gebroke Engels antwoord dat haar man net gaan kyk het of hy nie leeus kan sien nie. Nadat hy haar probeer verduidelik het hoe gevaarlik dit is, ry hy verder en laat weet my oor die radio wat gebeur het, mal buitelanders!!

Op ons pad verder na Twee Rivieren, ongeveer 10 km voor Rooiputs, kom ons op die half gevrete karkas van ʼn gemsbok af, hier langs die pad. Die karkas is gedeeltelik deur die leeus onder ʼn rosyntjiebos ingesleep om dit “weg” te steek. ʼn Wyfie lê langs die bos en ou vuilbaard so paar meter daarvandaan, in die koelte van ʼn doringboom. Daar is net twee ander voertuie saam met ons op die sighting en dit gee ons oorgenoeg geleentheid om die oomblik te verewig op kamera, ons neem baie foto’s.

Na sowat ʼn halfuur ry ons verder, want ons moet nog gaan inboek. By Twee Rivieren aangekom moet ons eers wag. Gaborone is van lyn af en hulle moet die bespreking deur hulle kantoor in Gaborone doen. ʼn Pluimpie vir ons Parkeraad wat daar-en-dan alle admin kan afhandel, of jy kan sommer self aanlyn op jou rekenaar bespreek en betaal!! Ek rapporteer die brandsiek maanhaar se GPS posisie aan ʼn bewaarder en sê hy moet dit Nossob toe stuur, daar is mense wat na hierdie leeu soek. Ons besluit om na die Twee Rivieren kampterrein te gaan en daar in die eetsaal te sit en rekenaars te laat up-date, e-posse te lees en banksake te doen oor die internet terwyl ons vir Gaborone wag. Die koel lug van die lugversorger is verfrissend en ons neem meer tyd as nodig om alles op te dateer en selfoon boodskappe te luister, het die afgelope paar dae geen opvangs gehad nie. Terug by die kantoor  betaal ons vir twee nagte.

By Rooiputs slaan ons kamp op onder die groot kameeldoringboom, so 15 meter weg van die A-raam afdak met die betonblad. Hier is nie krag nie en ek sit my sonpaneel uit. Daar waai ʼn ligte windjie, net genoeg om jou lekker af te koel as jy in die koelte sit. Ek gaan net weer ʼn slag deur my rympies met Anton en Magda: Nie alleen longdrop toe nie! Nie sonder ʼn flitslig loop nie! Maak seker die longdrop en stort het nie diere in voor jy ingaan nie! Skerpioene, slange, ens, ens!! Dis Rooiputs, het hom al beleef, sonder omheining, soos ek dit verkies.

Voor die son sak ry ons weer terug na die gemsbokkarkas waar daar nou twee welpies ook is. Ou vuilbaard en die wyfie lê nog op dieselfde plekke, dik gevreet en lui. Die welpies is tussen die karkas, waaraan hulle kort-kort gaan kou en die wyfie. Ons neem weer BAIE foto’s, veral met die welpies wat aan die karkas kou en dan weer oor ma gaan klim-en-klouter. Ons ry terug kamp toe, want ons wil settle voor donker.

Vanaand wil ek Bray se hout klaarmaak, die paar stukkies wat oor is. Die sonsondergang is weer besonder, getuig die aanhoudende kliek van die kameras. Die vuur brand hoog en ons sit en bewonder die natuurskoon hier in die Kgalagadi, voete op die voetstoeltjies soos altyd, bang vir die skerpioene. Op ʼn slag toe die nood druk, stap ek saam met Moeksie en jou wrintiewaar, hier loop die ou grote, een van daardie groot swart skerpioene! Dis lekker stil hier en jy hoor al die naggeluide van die bos.

Die riblits, aartappel en butternut smaak weer lekkerder as ander kere, moet die Bray hout wees dink ek by myself as ek die sterrehemel aanskou wat weer lyk of al die hemel se sterre hier bo ons uitgestal word. Die lewe is ʼn lied!! Dis heelwat koeler vanaand en ons slaap goed as die leeu se brul en die jakkals se tjank in die vêrte soos musiek in my ore klink.

  • Leave a reply