Dag 12

Dag 12. Donderdag 30 Januarie

Ek is nie eintlik ʼn vroeë oggendmens nie, behalwe as ek kamp, dan is ek meeste van die tyd op om die dag te sien breek. Weet nie wat dit is nie, maar ek put energie uit die aanskoue van elke sonsopkoms en ondergang. Dis seker die simboliek van “daar is ʼn begin en ʼn einde”, elke dag ʼn nuwe dag. Na ʼn paar koppies koffie het almal ontwaak en ek sit water op die vuur vir die stort, wil vir Magda en Moeksie bederf. Die waterkraan by die wasbak buite die stort droog gou op, was nie laas hier toe ek hier was nie. Ek vul die water aan met ons eie water. Die geluide uit die stort, ʼn hout skerm met beton vloer en ʼn emmer wat jy vol water maak en ophys, bevestig dat hulle bederf voel.

Ons besluit om Mata Mata toe te ry vir die dag, ʼn voldag uitstappie. Op ons pad uit, stop ons weer by die gemsbok karkas wat nou al redelik skoon gevreet is. ʼn Tweede wyfie het ook kom vreet en ou vuilbaard bied goeie Kodak moments saam met die twee welpies. ʼn “Varknek” in ʼn Landcruiser stasiewa, Botswana nommerplaat, wil ons wys hoe dit gedoen kan word en ry deur die veld tot tussen die ander karre en die karkas. Gelukkig is daar ʼn bewaarder in een van die voertuie wat die “varknek” uittrap in sy eie taal en hy het dit so goed gedoen, die “varknek” spin sy Cruiser en vat die pad. Dis wat ek jou noem as jy onbeskof optree in ʼn park, optree asof dit jou plaas is en maak soos jy smaak, ʼn “VARKNEK”.

Ons sien heelwat wild op ons pad na Mata Mata, leeus hier teen die pad, kameelperde, gemsbokke, steenbokkies, tierboskat, springbokke en vele ander spesies. Die roofvoëls dwing ons ook om telkens te stop vir ʼn fotosessie. Naby Mata Mata sien ons, aan die oorkant van die rivierloop, ʼn jagluiperd met ʼn springbok in sy bek, pas gevang.

By die winkel op Mata Mata koop en koeldrank en ʼn roomys en verken die kampterrein. Die grenspos na Namibië hier by Mata Mata is weer oopgestel, moet dit onthou vir my volgende trip woestyn toe.

Die pad terug lewer weereens baie diere op, nog ʼn jong jagluiperd, nog leeus, ou skillie, al die ander normale diere en heelwat roofvoëls. Vandag “mis ons nie die aasvoëls” nie, die pad is lewendig en ons gesels lekker in die bakkie. Ons vertoef lank by Urikaruus watergat want vuilbaard en ʼn wyfie lê in die koelte so naby aan die pad, jy kan hulle vryf en daar is net een ander voertuig saam met ons.

Ons ry by Twee Rivieren langs waar ons ys en ander aankope doen, nie te veel nie, want more ry ons Upington toe.

Terug by Rooiputs geniet ons die stilte van die kamp en ontspan lekker. Hoewel ons nie vanaand gaan braai nie, is dit nou maar my tradisie.  Daar moet ʼn vuurtjie brand, of soos dit ook al bekend geraak het, ʼn bosveld TV moet aangesit word. Sien, as mense so om ʼn vuur sit, kyk almal na die vlamme en sien elkeen sy eie prentjie, op sy eie kanaal en woorde hoef nie baie te wees nie, want dis jy en jou gedagtes wat duisende kilometers vêr wandel en dan weer hier by jou is as die jakkals hier agter die bos die nagstilte breek met sy getjank. Dis Anton se beurt vir kosmaak, “spekball” of dalk beter bekend as spaghetti bolognaise. Die water in die kraan by die wasbak is terug en die stort laat mens weer NUUT voel.

Om die kampvuur besluit ons om more vroegerig op te pak, so tweede mossie, by Twee Rivieren se ablusie te gaan stort en dan die pad te vat Upington toe. Die vertrektyd op my toere word aangewys deur mossies, voor die eerste mossie poep beteken voor sonop, tweede mossie beteken na sonop maar voor agt en derde mossie beteken rustig op ons tyd, as almal klaar is, maar gewoonlik so 10 uur se kant.

More gaan ons toer aan en dit voel asof ons net gou kom vakansie hou het vir 5 dae hier in die Kgalagadi. Lekker om te dink aan vakansie hou binne in ʼn toer, ʼn eerste vir my.

  • Hollies dit lyk na ‘n fantastiese ondervinding, jy sal nie net dalk al die ondervindings plekke, kampe ens vir ons in ‘n bundel kan oopmaak en print, met fotos natuurlik, teen ‘n koste nie?

  • Leave a reply