Dag 13

Dag 13. Vrydag 31 Januarie

Dis Moeksie se verjaarsdag en sy waardeer die koffie net na 6 in die bed. Jy kan die opgewondenheid in haar stem hoor as sy vertel hoe bevoorreg sy voel om dit hier te kan vier. Die oppak is vinnig en ons vat die pad na Twee Rivieren. Anton roep oor die radio en sê een van die waentjie se briekkabels sleep op die grond. Ek maak hom op ʼn manier vas aan die bakwerk en besluit om op Upington running repairs te gaan doen. Ons stort in die kampterrein se ablusie, pomp die bande op en vat die pad. Die 253 km teerpad tot op Upington is soos Manna uit die hemel na die afgelope 5 dae se grond- en sinkplaat paaie. Oor die radio bespreek ons ons slaapplek vir vanaand en almal is dit eens, Moeksie moet bederf word, so dit sal ʼn gastehuis wees.

Ek gaan soek ʼn plek wat die waentjie se briekkabel kan regmaak, los hom daar en gaan soek ʼn koffiewinkel waar ons kan bel om slaapplek te bespreek.  Ons Google en kry ook ʼn brosjure met lodges en gastehuise se kontaknommers. Meeste plekke is vol en redelik duur. Ek praat met ʼn vrou oor die selfoon, dis R950 per nag vir ʼn dubbelkamer en daar is veilige parkering en kragpunte vir die waentjies. Sy wil nie verstaan as ek probeer verduidelik dat ons net gerieflik wil slaap vir een aand teen ʼn billike prys nie. Ons moet net eers kom kyk, die prys is onderhandelbaar, maar ons moet eers kom kyk na haar plek en kan dan ry as ons nie van die plek hou nie, of ons dink dis te duur, maar ons MOET kom kyk. Sy wen die rondte en ons ry Riviera Garden Lodge toe, op die oewer van die Oranjerivier met ʼn pragtige tuin en swembad, rêrig mooi. Moeksie verjaar vandag en ek onderhandel nie te hard oor die prys nie, maar ek wen hierdie rondte as sy instem op ʼn redelike groot afslag toe ek twee dubbelkamers boek. Sy vertel van die Karsten vrou wat oorlede is en more oggend begrawe word. Die Karsten’s is mos die bekende boere van die kontrei en dit gaan ʼn groot begrafnis wees, daarom is meeste plekke vol bespreek deur naasbestaandes, familie en vriende van vêr.

Ons laat ons nie twee keer nooi nie en gaan geniet ʼn kouetjie langs die swembad met ʼn mooi uitsig oor die rivier. Nou ontspan ons lekker, want dis nog vroeg en ons het geen planne vir die res van die dag nie. Ons het besluit om vanaand saam met Moeksie te gaan uiteet, sal later besluit waar en hoe laat. Dis ʼn luilekker middag onder die koeltebome, lower groen gras met die rivier voor ons en ons koel kort-kort af in die swembad, luuks, baie luuks.

Ons bad en stort en maak klaar vir die aand se uitgaan. Die Ocean Basket in die Kalahari Mall roep die hardste, want dis waar ons opeindig. Die wynlys voldoen nie aan ons behoefte nie maar ons kry ʼn bottel witwyn op die huis, of sal ek sê op Moeksie se verjaarsdag. Na ʼn paar glasies wyn en ʼn feesmaal, loop ons deur die sentrum om window shopping te doen. Moeksie het BAIE lekker verjaar, vertel sy telkemale.

Die lugverkoelde kamer met die vars beddegoed voel so reg vir my, dis immers Moeksie se spesiale dag en ek voel ook bederf. Dit was van die begin af die ooreenkoms met Anton, hulle is welkom om in gastehuise te slaap sou hulle nie op ʼn plek wil kamp nie, maar hy was vasbeslote om saam met ons te kamp, of in te val by ons reëlings. Ons slaap ekstra lekker, seker maar die opgewondenheid met Moeksie se dag wat die slaap so ekstra lekker maak.

  • Leave a reply