Dis net 121 km na Augrabies en ons beweeg eers laat, immers is die waentjies klaar reg en kan net gehak word. Na ons onsself reinig, geniet ons ʼn koppie koffie in die sprokiestuin, gevolg deur ons vars vrugte, papaja en jogurt. Die vrou kom wys ons die sultanas wat sy verkoop en na ʼn proeseltjie besluit ons om ʼn paar pakkies te koop. Hierdie is mos sultana en rosyntjie wêreld, hierdie kontrei langs die Oranjerivier.
Die besluit is om aankope te gaan doen by die Kalahari Mall en van daar af verder te ry. Dis net voor elf toe ons in die pad val. In Keimoes praat ons van nog vleis koop en my oog vang die bordjie, die naam wat die vrou by die gastehuis vir ons genoem het, Keimoes slaghuis. Dis maandeinde en Saterdag, die dorp loop oor en dit voel of die hele kontrei hier is om te kom koop. Ek bly by die voertuie en die res gaan doen die aankope. Dit voel later soos ʼn uur maar Moeksie bly weg.
Einde ten laaste kom hulle uit met ʼn verskeidenheid van vleise wat die vrou in die slaghuis aanbeveel het, sosaties, tjops, wors, flip-se-rib en oortjies, ja oortjies, sal later vertel.Die Pienk padstal net voor Keimoes is ʼn MOET, hier stop jy en jy moet nie te haastig wees nie, want jy verwonder jou aan al die “kaggelkakkies” (allerlei klein, ou- en nuwe artikeltjies) wat die plek karakter gee, veral die rooskwarts wat die grond bedek en die honderde nommerplate teen die muur in die binnehof. Hier is genoeg om die kameras aanhoudend te laat kliek.
Weer terug in beskawing?