Dag 5

Dag 5. Donderdag 23 Januarie

Dit reën nog liggies toe ons opstaan en die koffie wat Anton gemaak het is soos boeretroos. Ons besluit om ontbyt by die Lodge te gaan eet en nie te sukkel nie. (ʼn gesegde wat Anton al baie gespreek het, dis nie ʼn oorlewingskursus nie, ons mag maar gerieflik kamp en dit geniet). Na ontbyt is die donkie se water nog warm onder die stort. Met nog ʼn koppie koffie in die hand besin ons oor die verloop van die res van die dag.

Die tente is nat en ons besluit ons gaan nog ʼn aand, of twee of drie slaap, om droog op te slaan. Ons het baie tyd en gaan verken die dorp. Louis by die deli vertel ons meer oor die dorp en sy mense. Hy maak kos vir die skool en die koshuis – ja hier is ʼn koshuis op die dorp wat dertien kinders huisves. Ons gaan besoek die lokale bakkery waar ons onsself eers wou voorstel as inspekteurs maar toe daarteen besluit het. Ons MOET die bakkery besoek want Anton en ek was lewenslank in die bedryf betrokke. Die reuk van vars brood kielie die hongerspiere in jou maag en hang sterk in die vars lug na die reën. Die algemene handelaar by die petrolstasie is iets om te beleef, van basiese kos, plaasimplemente, hardeware, perdesaals, skryfbehoeftes, van alles en nog wat. Die man agter die toonbank praat van oor die 10 000 items in voorraad as hy na al die skroefies, spykers en moere in die houers op die grond wys. Dit is die winkel op Bray waar jy enigiets kan koop, enigiets. Op ʼn rak is daar ʼn beigekleurige erdepotjie wat nie agtergelaat mag word nie, ideaal vir vleis en oorskiet kos wat ontbyt moet word. Ons praat vandag nog van BRAY as ons na daardie bakkie verwys, en hy gaan kamp ORAL saam.

Terug by ons kamp is dit tyd vir Moeksie om ʼn paar kleertjies te was. Dis ʼn lekker sonskyn middag en die lug ruik nog vars na die reën. Ons stap Lodge toe om ons rekenaars te up-date deur Wi-Fi en te kyk of daar nuwe mails deurgekom het. Ons betaal vir die aand se kamp en gesels lekker met die mense, terwyl ons nog ʼn kouetjie by die kroeg geniet. Ek vra of ek ʼn paar stukke hout kan laai die volgende oggend as ons pad vat en “help jouself met genoeg” kom die antwoord van die man agter die kroegtoonbank. In ons gesels kom die ongevraagde antwoord duidelik na vore oor ons volgende bestemming – Molopo Natuurreservaat.

Die tjops en braaibroodjies vanaand proe weereens spesiaal, seker die hout waarop dit gebraai is wat die verskil maak. Om die kampvuur die aand dink ek terug aan die een keer wat ek hier op Bray was, baie jare gelede, en vertel die storie vir Anton.

Ek was nog op hoërskool gewees, sowat 37 jaar gelede. ʼn Goeie vriend van toeka se dae, Dirk Vorster van Delareyville, was saam met my in Schweizer Reneke op skool en hy het in die koshuis gebly. Hulle het ʼn plaas hier gehad. My groot pêl van daardie tyd, Danie v/d Heever, Dirk en ek, het een naweek hierheen gekom en op die plaas gekuier. In die stoor was daar ʼn 1972 Bedford wat aan die gang moes kom. Na ʼn lang gesukkel loop die enjin, maar die petrolpedaal is soek. Die lot val op my, met die enjinkap oop moet ek myself voor in die enjin tuismaak en die funksie van die petrolpedaal verrig, deur met my hand die petroltoevoer te beheer, op Dirk se instruksies. Danie sal by die linker venster uithang en die pad aandui want Dirk kan nie oor die oop enjinkap sien nie. Daar was ʼn paar noue ontkomings as die spoed te vinnig was en ons op die twee-spoor sandpaadjie tussen die doringbome moes deurvleg. Gelukkig het ons oorleef anders sou ek nie hierdie storie kon vertel nie. Wens egter ons het dit op film kon vaslê.

  • Leave a reply