Dag 16

Dag 16. Maandag 3 Februarie

Met die lekker slaap is ons vroeg op, drink ʼn koffie en begin oppak. Na die jogurt en vrugte haak ons die waentjies en gaan besoek eers die koöperasie op Kakamas. Die 204 km wat voorlê is meestal teer, net die laaste 30 km na Klein Pella is grondpad. By Oranjerivier kelders proe ons aan die wingerdvoggies en maak seker ons vul die rantsoene genoegsaam aan. Die gesels met die Fransman wat ook kom proe het, verbaas ons, want dis net hy en sy vrou in ʼn gehuurde 4×4 wat in Afrika kom toer. Hulle kom nou uit Botswana uit waar hulle in die Delta rondgery en op ʼn keer ʼn dag lank vasgeval en gestrand was, voor hulp opgedaag het. Maak net altyd seker jy het genoeg drinkwater by jou, hulp sal altyd opdaag, al is dit na twee of drie dae, kom dit van hom af. Boonop is hy self ʼn wynboer in Frankryk en besing hy die lof van die Suid Afrikaanse wyne, selfs verbaas oor die kultivars van hierdie kelder.

Ons maak brandstof vol op Pofadder. Die petrolstasie is geleë langs die erf met al die honderde beeldjies uit blik en staal, vlakvarke, voëls, kameelperde. Dit lyk soos ʼn dieretuin.

By Klein Pella kry ons kampplek vir twee nagte onder die twee groot kameeldoringbome aan die Noordekant van die terrein, langs die heining en naby die ablusie. Nee, ons is die enigste kampers, so ons kon op enige plek staan, geen ander malkoppies wat in hierdie hitte kom kamp nie.

Vandag is die son weer naby aan die aarde, want ek sweet lekker en besluit die mis-sproei moet weer werk. Die ou groot doringboom maak ʼn groot sambreel en ek ryg die mis-sproei deur die takke om ʼn groot area te dek. Die lafenis is onbeskryflik as die sproei op jou val en die windjie liggies roer om die afkoelwerk te doen. Middag-snack is skenkelvleis wat oorgebly het van gister, dun gesny op broodjies bedien. Dis seker waarom ek altyd oorboord gaan met braaivleis, wil net seker maak daar is ʼn hapseltjie oor vir more. Die res van die dag word spandeer langs die swembad, maar nie voor ek al die heuningbye uit die swembad skep nie. Die water van die skoon swembad is verfrissend en die lower groen grasperk dra by tot die gevoel van “huis”.

Vanaand is “flip-se-rib” aan die beurt, die rib wat ons in Keimoes gekoop het. Die vrou in die slaghuis wou Moeksie nie laat gaan alvorens sy ʼn rib in die mandjie gepak het nie. Dis een van hulle spesialiteite en belowe sy, sal ons terugkom vir nog as ons eers geproe het. Die vuur word aangesteek en ons bewonder die koppies en omgewing om ons, wat deurlopend van kleur verander as die son laag sak en die wêreld inkleur. Die lammertjie en ponie in die kraal aan die oorkant en die poue wat rondloop, gee ʼn regte plaas gevoel.

Die vrou van die slaghuis was reg, ons moes ʼn paar van “flip-se-ribs” gekoop het. Hierdie ontbeende lam rib is werklik besonders!! Die knoffelbrood gee ekstra smaak aan die kuier, of sal ek sê reuk.

Ons gooi nog ʼn paar houte op die vuur en gesels lekker oor ons wedervaringe tot nou toe. Die aand vorder langsaam maar die hitte wil nie breek nie. Moeksie gaan sukkel vanaand.

  • Lyk my maar dis ‘n man-ding dié daar altyd te veel vleis gebraai word, sodat daar nog genoeg vir môre se eet is. En dan is mos ook altyd nog lekkerder ook!

    Sal wanneer ons deur Keimoes gaan, dan opstock op daai flip-ribbe! Dankie vir daai wenk.

    Ek sien elke dag uit na jul ervarings.

  • Leave a reply