Dag 17

Dag 17. Dinsdag 4 Februarie

Voor die son sy kop uitsteek, sit ons buite en teug aan die koppie koffie. Vandag is weer ʼn rusdag want al wat op die program is, is ʼn draai ry om die dadelplaas vir Anton en Magda te wys. Ek en Moeksie was al hier tydens een van ons omswerwinge ʼn paar jaar gelede. Hierdie is die grootste dadelplaas ter wêreld en ons bly beïndruk met die netheid van die boerdery, alles op sy plek, netjiese store, paaie en besproeiings netwerke.

Ons swem en lê rustig onder die koelteboom langs die swembad en ontspan, so rustig dat ons oë toeval en kort-kort ʼn slapie vang as die lyf afgekoel is. NOU KAMP ONS LEKKER !!

Die middag begin ons ʼn ding wat later ʼn instelling sou raak, so by vieruur se kant maak ons ʼn blikkie ingelegde vrugte oop saam met idealmelk, dis ons middagtee. Na vandag is daar gereeld op die toer gevra of dit nie al vieruur is nie, tyd vir middagtee. Na middagtee is ons weer swembad toe om af te koel. Die sonsondergang is weer wow en jy verlang na mense wat jy nie ken nie. Besig met jou eie gedagtes en gevul met dankbaarheid as jy die prentjie aanskou.       

Dis Anton wat die hoender perfek braai en dit smaak lekker. Daar is ligte windjie wat opsteek en die lug afkoel. Vanaand sal ons lekker slaap. Ek merk daar is vloeistof op my waentjie se yskas slide. Dis die deep sycle battery wat lek en die suur het begin uitloop.

Ek is redelik moeilik, want die battery is net ʼn paar maande oud! Sal op Springbok plan maak, want ek moet krag vir die vrieskas hê, wil nie sukkel nie.

  • Ja ou Hollies dit bly lekker om te kamp. As ‘n persoon julle wedervaringe so lees, dan is ek dankbaar ek is ook ‘n kamper, groete

  • Leave a reply