Dag 18

Dag 18. Woensdag 5 Februarie

Dis lekker koel as ons opstaan en ons het besluit om teen derde mossie te ry en op Springbok oor te slaap. Die 204 km is grondpad, want ons het besluit om Goodhouse om te ry, al langs die Oranjerivier.  Na opslaan stort ons lekker, eet jogurt en vrugte en is net na tien in die pad. Die omgewing is regtig mooi as jy op die grondpad Goodhouse toe ry, ʼn redelike goeie pad.

By Goodhouse soek ons eers die lokale winkel op, nie ʼn groot keuse nie, want dit is ʼn one-horse-town. By B.P. Mobile word ons vriendelik ontvang. Die winkel is so 3m by 3m, ʼn regte plaaswinkeltjie, soos ek hulle onthou uit my kinderdae en ons is verbaas oor die verskeidenheid voorraad op die rakke. In die huisie aangrensend aan die winkel word die kos gekook, maar die res voel nie nou vir iets te ete nie en ek laat vaar dit. Die vrou by die winkel wil weet wat ons hier kom maak en glo ons nie toe ons vertel ons ry net deur nie. Mense ry nie net deur Goodhouse nie. As hulle hierheen kom, dan kom doen hulle werk hier. Dis te vêr en afgeleë om net deur te ry, praat sy in mooi Afrikaans. Ons koop koeldrank, neem ʼn paar foto’s en vat die pad.

Op Springbok aangekom is dit weer tyd vir running repairs en gaan soek ek ʼn plek wat deep-cycle batterye verkoop. Die mense by Batery Centre is vriendelik en het voorraad. Hulle help my om die battery wat lek uit die waentjie te haal en vinnig is ons weer op pad. Anton soek ʼn tandarts wat na ʼn kroon kan omsien, wat hom moeilikheid gee.

Ons kamp vir een aand by Springbok karavaanpark buite die dorp, so 5 km op die lughawe pad uit. Dis ʼn netjiese terrein met lekker groen gras. Na opslaan gaan doen ons aankope terwyl Anton tandarts toe is. Die aankope moet genoeg wees vir ten minste 6 dae want ons gaan die Richtersveld besoek, weet nog nie vir hoe lank nie en daar is niks. Terug by die kamp skarrel almal om ʼn baadjie in die hande te kry, kan nie glo dat dit so koel geraak het nie, eintlik redelik koud!

Die koue weer maak dat ons vroeg vuur aansteek vir die hoendersosaties en braaibroodjies. Na ete is ons redelik vroeg storte toe en direk bed toe. Gelukkig is daar altyd ʼn kombers in die waentjie se tent en hy is baie welkom vanaand. Ek kan nie glo ons kry so koud in die middel van die somer hier op Springbok nie! Sal ek later verneem dat dit ʼn redelike algemene ding is, die koeligheid as die son sak, gereelde ding in die somer.

  • Leave a reply