Dag 3

Dag 3. Dinsdag 21 Januarie

Die oggend staan ons vroeg op en stap na die uitkyktoring. Ons kan ons oë nie glo nie – ses renosters lê vlak voor ons by die dam. Die kameras kan nie ophou kliek nie, dis majic. Springbokke en blesbokke loop en lê oral rond. Vlakkie se kinders stel ook nie teleur nie en baljaar in die modder. Jakkals se kind maak seker die bokkies wat lê raak nie te gemaklik nie

Nog twee Renosters kom water toe, die horings is mooi. Die koffie wat ek drink terwyl ek om my rondkyk, smaak die lekkerste ooit! Amper net so lekker as die koffie in die Serengeti toe ons die Wildebeesmigrasie aanskou het. Dis ʼn emosie wat jy eers moet beleef voordat jy verstaan wat iemand sê as hy daaroor praat.

Ons wil heeldag hier vertoef, maar besluit om brunch te gaan maak en weer ʼn slag deur die park ry. Terug in die kamp moes ons  eers opruim waar die blouapies ons rommel rondgestrooi het.  Terwyl ek op die toilet sit en oor die veld staar, gewaar ek die wolke wat saampak op die horison en besef ek dat ons kan reën kry. Die toilet is ʼn steenhuisie sonder ʼn deur wat na die veld toe uitkyk. Nou het die uitdrukking “ʼn veltie” ook ʼn nuwe luukse betekenis gekry. Amper soos in die Serengeti waar ek ʼn porselein skoeter gery het.

Dis ʼn storie vir ʼn ander dag…

Die stort is lekker gerieflik, ʼn blikemmer aan n kabel, wat jy vol water maak en ophys in die groot ou doringboom. Die stort is ʼn entjie weg van die kampplek, met ʼn betonvloer en n rietheining om.

Die voorspelling wat jy maak as jy op die toilet sit is nogal akkuraat, want die reën het toe vroegmiddag gekom. Dit het gevoel soos die stortemmer x 1000 wat oor ons uitgegooi word. Ons het nie gekla nie want ons weet diè wêreld het reën nodig. Dis baie warm en droog! Die hitte breek genadiglik na die lekker stortbui. Gelukkig kamp ons op sand wat nie modder maak as dit water kry nie en die reënwater trek vinnig in.

Laatmiddag pak ons versnapperings en koeligheidjies in om ʼn sundowner op die uitkyktoring te gaan geniet. Weereens stel die watergat nie teleur nie en ons is verstom oor al die wild wat ons sien. Die diere kry mos nuwe lewe na so n reënbui. Veral die swartwildebeeste, die narre van die veld. Hulle hardloop rond so asof hulle malkoeisiekte het, koeie wat mal geraak het en van hulle oortollige energie ontslae moet raak. 

Om die vuur daardie aand, besluit ons om die volgende dag verder te ry na nog ander plekke wat ons moet gaan verken en beleef. Eenparig kan ons nie uitgepraat raak oor die afgelope 3 dae nie, net bang dit raak op of sleg. 

Ons voel geseënd !!

  • Die kampgogga het ons n jaar gelede gebyt. Ons albei werk nog en die kovk down meng in met ons reisplanne Richtersveld, Kgalagadi en Namibië toe. Ons hou nou binnelands en hou styf duimvas vir einde Mei.

  • Leave a reply