Dag 19

Dag 19. Donderdag 6 Februarie

Ons is oudergewoonte vroeg op met ʼn lekker koppie koffie in die hand om die dag te bespreek. Magda en Moeksie wil dorp toe vir oulaas om lap en gare te gaan soek. Ek en Anton slaan kamp af terwyl hulle terug is dorp toe. My woorde is redelik ferm as ek sê hulle moet gou maak, want die 359km pad vir vandag is lank, veral die deel in die Richtersveld wat maar stadig aangepak moet word.

In Port Nolloth is die res nie baie ingenome toe hulle wou stop vir vis en chips en ek nie instem nie, die pad is nog laaaank.

By Alexanderbaai maak ons weer brandstof vol. Die wind waai erg en die stof pla my wat so oor die oop manhole waai waar ʼn tenker brandstof aflaai. Van hier af is dit 90km redelike grondpad tot by Sendelingsdrif waar ons moet inboek om in die Richtersveld in te gaan.

Ons vorder goed en kom voor vier by die Parkeraad kantoor aan. Hulle maak eers weer vieruur oop na hulle siësta. Terwyl ons rondstaan en wag, kom ons ooreen om 4 nagte oor te slaap in die Richtersveld, De Hoop en Kokerboomkloof. Ek was al voorheen by beide en is bly toe die groep instem.

Ons kry net plek by De Hoop, Kokerboomkloof is gesluit en ons boek in vir 5 nagte, koop genoeg hout en ʼn koeldrank vir die pad. Ons sal moet wikkel, want jy wil nie in die donker die 45km na De Hoop ry met ʼn sleepwaentjie nie. Die kantoor deel ons mee dat daar baie verspoelings was met die reën en die pad, veral Akkedis pas, redelik uitdagend is. Gelukkig is dit somer en die son sak redelik laat, maar ons sal moet ry om dit te maak.

Ons vorder fluks en die radio’s klets as ek vertel van die vorige maal wat ek hier was, ʼn hele paar jaar gelede. Dieselfde waentjie nog sonder ʼn inloopbriek, met ʼn Hilux 2.7 2×4. Dit was rêrig ʼn vreesaanjaende ervaring, want jy moes redelik vinnig teen die opdraandes uitry, rotse en klippe mis, pad te hou en om nie momentum te verloor nie, want ek sou nie weer kan wegtrek met die 2×4 en die gelaaide waentjie teen die steiltes nie. Ek was BAIE waaghalsig of het BAIE vertroue in my Toyota gehad daardie tyd, ʼn rit wat Moeksie glad nie van gehou het nie. Maar nou is ek reg, kan nie wag om Akkedispas met my Hilux 4×4 kaf te draf nie! Die waentjie is ook intussen toegerus met ʼn inloopbriek, na my Sanipas wedervaringe, maar dis ook ʼn storie vir ʼn ander dag.

Aan die voet van die Akkedispas hou ons stil, donkierat en eerste en vat hom stadig, sê ek vir Anton oor die radio. Gee maar kans dat ek ʼn ent weg is voor jy kom, sodat daar genoeg afstand tussen ons is vir herstel as iets fout gaan. As jy voel die wiele spin, gebruik die diff-lock.

Ons is so paar honderd meter weg toe die sweet op my voorkop uitslaan! My Hilux het GEEN krag nie en ons beweeg sluk-sluk, hoes-en-proes die pas uit. By tye is dit so erg dat hy heeltemal gaan staan, dan moet ek eers die petrolpedaal behoorlik pomp voor ons weer sluk-sluk vorentoe beweeg. Hiers MOEILIKHEID !!  Die nog erger as Anton oor die radio spog hoe maklik sy Fortuner die pas opeet en ek kan aan sy stem hoor hy geniet dit. Op ʼn gelyk stuk staan ek eers ʼn rukkie, rev die enjin behoorlik en hoop die vuiligheid in die carborator kom los, maar vergeefs. Dit was weer Akkedispas met ʼn voertuig wat nie sy kant kon bring nie! Moeksie is net so teleurgesteld soos ek, het rêrig uitgesien na die lekker uitdaging om Akkedispas met die 4×4 te geniet.

Aan die anderkant van die pas hou ons eers stil, want ek wil asem skep en die teleurstelling verwerk. Ek en Anton ontleed die situasie en beskuldig die vulstasie op Alexanderbaai van vuil petrol, daar waar die higiëne nie op standaard was met die tenker en die stof nie. Ons moet wikkel, want die son sak en dis nog ʼn hele ent wat ek met die moeilikheid moet voortbeur. Ek sukkel-sukkel aan en is moedeloos, kan nie die Hilux geniet soos ek gedroom het nie. Wat ʼn teleurstelling en antiklimaks. Ek is sommer kwaad, BAIE kwaad.

Dis net na 7 toe ons eindelik by De Hoop aankom. Hier is nie veel koeltebome waaronder ʼn waentjie en tent kan inpas nie. By die eerste lekker kampplek is daar manne met ʼn tent wat kom visvang het en eenkant is ʼn gehuurde 4×4 met ʼn jong paartjie wat kamp.

Ons kies die terrein naby die rivier, voor die ablusie, met die bos wat as kombuis en kuierplek kan dien en genoeg skaduwee sal bied. Ek moet eers die moedeloosheid met ʼn sterk dop afsluk voor ons begin opslaan, my dag is bederf.

Ons bou ʼn braaiplek van klip voor die “kombuis” met ʼn mooi uitsig oor die rivier. Hier gaan ons lekker kuier. Ons braai hoender, wors en eet ʼn knoffelbroodjie. Dit is lekker koel hier langs die rivier en ons behoort goed te slaap.

Ek sukkel om die teleurstelling met die Hilux te verwerk en dink daaraan dat ek nog dieselfde pad moet terug, my gedagtes werk oortyd as ek na die bosveld TV staar. Anton praat my moed in en sê ons sal uitkom, sal more verder planne maak.

  • Dit lyk heerlik. aag hoe sien ek uit na ons trippie. Ons het beplan vir September 2020 maar sal eers sien wat die lockdown doen. Maar julle fotos lyk interesant en ek maak notas van die plekke wat julle besoek. Dit gee my hoop dat ons dit ook gaan genied

  • Goeie Dag Hollies.
    Ek en my Vroutjie is ook toer mense en geniet jul dag-tot-dagtoer om RSA. Ons beplan so n toer na die grendeltyd maar wil sal wees vanaf Gansbaai om RSA en terug na Gansbaai. Onlangs het ons getoer vanaf Gansbaai, ons tuisdorp, na Namia, tot in die miidel van Angola waar die Kongorivier in die atlantiese oseaan invloei, Soyo en kuslangs terug deur die doodsakker tot weer by die Kunenerivier en allangs die rivier tot Ruacana.
    Nou my vraag? Plaas jy net eendag van jul toer per dag op jou webblad of kan die ander dae sien tot die laaste dag.
    Groete Bennie Gericke

    • Dankie Bennie, bly jy geniet dit. Die toer is klaar geskryf tot op dag 82 maar ek plaas net een dag op n slag.

  • Leave a reply