Dag 20

Dag 20. Vrydag 7 Februarie

Ons is redelik vroeg op en die koffie hier langs die Oranjerivier het ʼn ander smaak, nog lekkerder. Almal, behalwe ek, het lekker geslaap, die Hilux het my wakker gehou. Ons sit die sonpaneel uit, want ons is sonder krag vir 5 dae. Ek dink daaraan om terug te ry Springbok toe, daar is ʼn groot Toyota handelaar. Die fout daar te laat regmaak en weer terug te ry hierheen. Die gedagte klink nie lekker nie en ek besluit om die air filter van die Hilux uit te haal en skoon te blaas. Daar kom nie veel stof uit toe ek hom blaas nie en ek soek die petrolfilter. Met die dubbele batterystelsel wat ek voor in die bonnet laat inbou het, is daar geen manier om by hom uit te kom nie. Ek besluit om die filter skoon te ry en Anton en ek vat die pad al langs die rivier af in ʼn Noordelike rigting. Dis lekker oop en gelyk en ek trap hom plat, eers proes proes ʼn paar honderd meter en toe is dit asof hy weer homself is, gee krag as ek aan die petrolpedaal raak. Ek is verlig, BAIE verlig. Die vuiligheid is uit!!

Die roereier en toast smaak sommer lekker en ons, ek ook nou, ontspan lekker om die kombuis. Anton stap na die plek waar die manne gister visgevang het en gooi ʼn lyntjie in. Die klein geelvissies is honger en Anton vang ʼn paar. Hy sit op die wal van die rivier met sy voete in die water vir lafenis. Hy geniet dit as die vissies nader swem en aan sy tone knibbel, soos die Oosterse Spa’s waar hulle spesiale visse het wat dit doen en jy ten duurste betaal! Hier kry hy dit gratis! Die res van die dag verloop rustig met Magda en Moeksie wat in die koelte by die kombuis sit en naaldwerk doen en Anton en ek ʼn paar klein vissies vang. Anton is later reg voor ons kampplek ʼn paar meter die rivier in, maak homself gemaklik op ʼn rots wat bo die water uitsteek en later sak hy so halflyf af in die stroom in en sit met sy rug teen die rots wat bo die water uitsteek. Dis warm selfs hier in die koelte en ek laat nie op my wag nie. Strandsambreel in plaas van visstok gaan sit ek langs Anton in die water onder die sambreel. Daar is lekker groot plat rotse onder die water en die sit is gemaklik en koel, soveel so dat ons ons “sitkamer” ontdek. Dis ook nie ure voor die vrouens hulle swemklere aan het en by ons aansluit in die sitkamer nie. Ons sit lekker onder die sambreel in die water en gesels, met die nodige versnaperings wat in die water langs ons koel gehou word. Wonder wat sal mense sê as hulle nou hier aankom en ons so in die rivier sien sit, maar dis LEKKER !

As die skaduwee van die berge aan die Westekant die rivier begin bedek, is die versnaperings gepak en ons ry teen ʼn koppie uit vanwaar jy ʼn mooi uitsig oor die hele terrein en rivier het. Die berge aan die oorkant van die rivier se kleur verander elke oomblik as die son se strale skaduwees in die klowe maak en die klip met verskillende kleure inkleur. Jy moet dit self beleef om dit te kan waardeer, woorde kan dit nie beskryf nie en ek voel weer klein en dankbaar as ek na die prentjie voor my staar. Ons praat nie baie nie en geniet net die oomblik.

Dis amper donker en Moeksie se lamspotjie se reuk vul die lug. Ons besluit, soos dit goeie kampers betaam, om die jong paartjie wat so ent weg van ons af kamp te nooi om later die aand by ons te kom gesels – verneem hulle is van Holland. Die amper gebrande rys en die lamspotjie is net wat die dokter voorgeskryf het vir hier langs die rivier en smaak lekker.

Stuart en Melany sluit later by ons aan en vertel hulle is verloof en het besluit om bietjie in Afrika te kom toer. Voorbereiding is op die internet gedoen en hier is hulle. Stuart haal ʼn kaart uit en vra na ander besienswaardighede wat hulle in Namibië moet besoek. Na Namibië is dit Botswana, Kruger wildtuin, Mpumalanga, Lesotho en Natal. Ons is verstom oor die twee se waagmoed om so toer alleen aan te pak en Stuart maak dit gou duidelik dat hy aan die polisie in Holland verbonde is en min dinge vrees. Sy kaart van Namibië is verouderd en ek gaan haal my Tracks4Africa kaart. Hy wil weet waar hy so kaart kan koop waarop ek hom antwoord dat dit nie nodig sal wees nie. Hy kan myne kry op een voorwaarde, hy moet iets goeds aan iemand anders doen as blyk van sy dankbaarheid. Die pay-it-forward gedagte wat ek al baie in my lewe toegepas het. Hy verneem van al die moeilike roetes want hulle wil die off-the-beaten-track roetes volg, lus vir uitdagings.

Die vuurvliegies dans oor die rivier en ons gesels tot laataand om die kampvuur. Ons kan nou kooi toe, want dit het effe afgekoel.

  • Leave a reply