Dag 21

Dag 22. Saterdag 8 Februarie

Die oggend ontvou soos meeste ander. Ons staan laterig op, was skottelgoed, drink koffie en beskuit, kuier en later ons jogurt met vrugte. Ons het besluit om Rigtersberg toe te ry vir die dag, die pad Suid al langs die rivier. Die nodige is gepak en ons vat die pad. Dis 6 km wat ons stadig vat. Jy moet mooi kyk waar die pad oor die klippe gaan en soms vat ons die verkeerde pad rivier se kant toe wat doodloop of weggespoel is.

Na 2 ure kom ons eindelik daar aan, stop op die gras teen die rivier en verken die area te voet. Dis ʼn mooi kampplek waar ons stop en ek sal graag hier kom kamp, nog meer primitief as De Hoop. Die stilte word verbreek deur ʼn voertuig wat aankom. Die jong man met sy vier passasiers stop en vra of ons weet waar kampplek nommer 4 is, waarop ek antwoord dat hier nie nommers is nie en beveel ek aan hulle kamp net hier. Hier is lekker gras, skaduwee en ʼn mooi uitsig oor die rivier. Hy wil niks weet nie en sê hy gaan nommer 4 soek. Na so twintig minute is hy terug. Ons het die gespin van die voertuig ʼn paar keer gehoor hier waar ons staan. Hy kry nie nommer 4 nie en sal maar hier kamp. Virseker sy eerste keer en sonder navorsing hier in die Richtersveld, dink ek. Ons vat die pad terug De Hoop toe en dit vorder effe vinniger, weet nou al waar die pad loop, maar nie ʼn pad wat ek vir ontspanning weer sal ry nie.

Daar word naaldwerk gedoen, ontspan en later is ons almal weer in die sitkamer, halflyf in die water onder die sambreel. Ons delf klippies uit die rivier met ons tone en stal hulle op die rotse om ons uit. Nou kamp ons lekker !!

Die skaaptjops en braaibroodjies is ʼn spanpoging tussen my en Anton as ons op die voetstoeltjies naby die vuur sit en nie uitgepraat kan raak oor die voorreg om hierdie droom saam te kan beleef nie, inderdaad ʼn groot stuk genade!

Magda en Moeksie is al in droomland toe ek en Anton nog laataand om die bosveld TV kuier. Uit die hoek van my oog vang ek die beweging en die volgende oomblik staan hy hier by ons  langs die vuur. Jakkals se kind, sê ek vir Anton. Hy is vinnig om my reg te help toe die tweede hond ook sy opwagting maak. Die twee veldwagters volg kort op hulle hakke en kom hurk-sit hier langs die vuur. Die mense daar by Richtersberg het probleme, sê hulle. Die Cruiser waarmee hulle ry se battery is pap en hulle moet more weer vroeg in die pad wees, ons moet gaan help. Dis net na elf toe ek, Anton en die twee wagters in die Hilux klim en die pad, vir die tweede keer die dag, aandurf. Anton glo ek het night vision, want ek ry die pad beter as vroeër vandag en ons is net na twaalf by Richtersberg. Die vier gaste is mense uit Holland wat weer in Suid Afrika kom kuier het, met een van die vrouens wat hier in Suid Afrika grootgeword het en haar vriende oortuig het om die Richtersveld te kom besoek en deur ʼn toer maatskappy in die Kaap die trip bespreek het. Ek word uit dankbaarheid ʼn bier aangebied, ʼn warm een, want hulle het nie yskas geriewe nie. Waarom het hulle nie die rivierwater gebruik as yskas nie, wonder ek, maar besef almal is nie ewe ervare met hierdie dinge nie. Ook maar goed ek kamp nie saam met hierdie mannetjie nie, dink ek by myself. Ons koppel die jumper leads en probeer die Cruiser start – niks – die battery is morsdood. Ek idle die Hilux vir so 20 minute en ons kry die Cruiser aan die gang. Ons stel voor dat die mannetjie die Cruiser die res van die aand moet laat idle of saam met ons terugry na De Hoop sodat ons hom more kan help om aan die gang te kom, want ons gaan NIE more weer die pad hierheen ry om hom te help nie. Hy bedank ons en sê hy sal ʼn plan maak, ons kan maar ry. Die pad terug gaan nog vinniger, weet nou al presies waar elke klip en gat in die pad is.

Nou gaan ons lekker slaap !

  • Leave a reply