Dag 22

Dag 22. Sondag 9 Februarie

Ons almal lê bietjie in vanoggend na gisteraand se uitstappie en staan eers laat op. Magda en Anton het die skottelgoed klaar gewas toe ek en Moeksie kop uitsteek. Ons eet roereier en toast en vat die pad Kokerboomkloof toe na ontbyt. Die Hilux is reg en ons ry die ongeveer 65km binne 3 ure, stop kort-kort langs die pad om die omgewing te bespreek.

 Ons is redelik teleurgesteld toe ons by Kokerboomkloof aankom en weet ons wou eintlik hier kom kamp het, maar hy is tans nie oop vir kamp nie. Ek het al hier gekamp en dis ʼn ongelooflike ervaring, tussen die rotse hier anderkant die “toon”. Dis ʼn groot rots wat soos ʼn groottoon lyk en is ʼn bekende baken in die omgewing. Hier kan jy die stilte “hoor” en in die aande is die sterre meer as op enige ander plek ter wêreld!

Die klipspringers teen die berg bied ʼn goeie Kodak moment.

Ons verken die kampterreine, klim die koppies en verken die area. Na besoek aan die Tatasberg uitkykpunt, waar daar mooi rotsformasies is, is dit broodjies en koffie en vat ons die pad terug De Hoop toe.

Terug by die kamp is dit terug sitkamer toe om die ergste hitte te breek. Stuart se gehuurde bakkie se voorwiel is pap en Anton en ek help die Hollander om die spaarwiel op te sit. Laatmiddag vat ons ʼn lekker koue stort om die laaste hitte af te spoel. Ek is bly die Hilux is reg en ek sien uit na die terugtog oor die passe. Ek sit die kragopwekker uit om seker te maak die batterye word vol gelaai en gee ook kans om die selfone en kameras se batterye te laai.

 Anton se spekball smaak onverbeterlik, dit komende van iemand wat nie rêrig pasta eet nie. Ek skep ʼn tweede maal op. Weereens ʼn volmaakte dag.

  • Leave a reply