Dag 27

Dag 27. Vrydag 14 Februarie

Dis Valentynsdag en ons is nie haastig om op te staan nie. Dis nog windstil en die koffie en beskuit met die uitsig oor die see gaan goed af. Ons besluit om rustig te kuier en eers later te gaan rondry en die area te verken, of sal ek sê aan Anton en Magda voor te stel.

Teen die tyd wat Anton met die Frensch toast begin is die windjie al stewig, maar die gazebo is ons redding. Na ete gaan lê Moeksie weer in die bed en boeklees. Alhoewel ons in die son staan, koel die windjie dit genoegsaam af en is die tent nie te warm nie. Anton en ek verken die rotse voor ons kampplek en bewonder die golwe wat hoog teen die rotse uitslaan. Hier is nog baie vis en kreef in hierdie ongeskonde see, vertel ons vir mekaar. ʼn Vriend van my van Lambertsbaai het my al daai ding vertel, BAIE kreef hier.

Die gedreun van ʼn voertuig laat ons kop uitsteek by die gazebo. Die man stop in die pad en kom nader gestap. Sy naam is Ian en kom van Rustenburg, werk daar op die myn. Die mense van die myn strike en hy het besluit om gou ʼn wegbreek te maak na hierdie deel van die land, was nog nooit hier nie. Pelle het hom vertel hy kan maklik met die pad hierlangs ry tot by Strandfontein en wil verneem of dit so is. Hy het ʼn 2×4 en sleep ʼn gewone waentjie. Hy dra ʼn hoed, want hy het ʼn lelike veluitslag in sy gesig, blykbaar die effek van nuwe medikasie wat hy spesifiek daarvoor gebruik. Die dokter het gesê dit gaan so lyk voor dit beter word, maar sal na ʼn paar dae heeltemal opklaar. Ons oortuig hom om sy vrou te kry en eers ʼn bier saam met ons te drink voor hy pad vat.

Ek ken nie die pad vorentoe nie, het gehoor dis maar dik sand en jy moet momentum hou as jy nie wil vasval nie. Ek is effe bekommerd oor die waentjie wat hy sleep, hy is BAIE laag. Hy gee ons ʼn sak hout en besluit om die pad aan te pak. Ons sê hy moet nie te gespanne raak as hy iewers gestrand raak nie, want ons kom more agter hom aan. Ons gaan ook Strandfontein toe en sal hom uithaal as hy vasval.

Die tweede bier was nog nie half nie, hier staan Ian weer onder die gazebo, uitasem geloop. Hy het nie vêr gevorder nie, sit met die voertuig en waentjie se aste op die grond sowat ʼn kilometer weg. Die Hilux is ʼn YSTER met die uitsleep van die bakkie, nadat ons eers die waentjie afgehak het wat soos ʼn ploeg in die sand agterna gesleep is. Ek begrawe ook die Hilux in die sand met die eerste poging maar die donkierat en in eerste, wip hy gemaklik uit. Ian besluit om eerder die ompad binneland te ry en nie verder te sukkel nie.

Ons ry later eers Noord tot by die vuurtoring, maar nie voor ek die man in die Cruiser die slegte nuus moes gaan meedeel dat sy linker voorwiel pap is nie. Hy weet, sê hy, as ek hom wakkermaak. Hy wag net dat dit koeler word voor hy hom omruil. Ek bied ons hulp aan en wys hom waar ons kamp, sou hy hulp benodig. Ons ry daarna in die rigting van die riviermond en gaan stap op die strand. Die flaminke in die riviermond is ʼn mooi gesig. Die seesand tussen die tone voel goed en ons stap ʼn vêr ent voor ons gaan sit en net oor die see uitkyk, branders wat breek en die blou lug op die horison. Wil nog eendag hier in die Namaqua Kus Nasionale park kom bly, hier waar daar nog rus te vinde is, eendag as ek groot is.

Die windjie is stil toe ons laatmiddag begin vuurmaak en Moeksie en Magda se hande is besig met die breiwerk as ons, ons stoele nader aan die vuur sit. Dis volmaan en net as die son sy kop wegsteek oor die see, verskyn die volmaan agter ons op die horison. Dis soos ʼn sprokie, te mooi om waar te kan wees, baie spesiaal, veral hiér en op hierdie Valentynsaand!

Die vuurtjie brand lekker en ek steek ʼn paar kerse aan om die Valentyn atmosfeer te versterk. Dis ʼn mooi gesig hier waar ons in die Boma sit, die volmaan wat opkom en die sterrehemel bo ons saam met die stilte, net die geknetter van die vuur en die see in die agtergrond wat jy hoor. Die skaduwee wat aankom is die buurman, Gerhard die Hollander, wat daar anderkant kamp. Wynbottel in die hand om te kom dankie sê dat ons hom hulp aangebied het. Hy het die pap band omgeruil en is reg vir die pad vorentoe. Ons nooi hom om saam met ons te kuier en die vinnige instemming vertel my hy is honger vir geselskap.

Hy het min of meer dieselfde roete van Hondeklipbaai tot hier gevat, maar het iewers verkeerd afgedraai en verdwaal. Na ʼn paar uur besef hy, hy is op die verkeerde pad en met die omdraaislag in die bosse moes hy die band beskadig het. Dit was so erg dat hy vasgeval het en gelukkig het daar plaaswerkers opgedaag om hom met die omdraaislag te help. Hy is seker dis waar die pap band vandaan kom.

Die rooiwyn wat hy voorsit is nie jou gewone nie. Die man het of BAIE goeie smaak vir wyn of hy het geld. Ek geniet gereeld self ʼn goeie rooiwyn. Proe soos engeltjie piepie soos my oorlede pa sou sê, sag op die tong.

Gerhard is van Pretoria, het hier kom kop skoonmaak, so op sy eentjie. Weet nog nie waarheen nie en ook nie wanneer hy verder gaan reis nie. Ek kan met hom identifiseer, want dit is presies wat ek besig is om te doen. Reis ek weet nie waarheen nie en ook nie wanneer ek weer vertrek nie. So om die skaaptjops en braaibroodjie raak ons vriende met die Hollander en hoor van sy teleurstelling na sy vrou se dood, toe hy met die jong poppie trou wat BAIE van sy geld vir hom spandeer het. Gelukkig het hy gou agter gekom sy is lief vir sy geld en nie vir hom nie en die huwelik beëindig. Ek sou later eers uitvind wat die BAIE geld beteken wat sy spandeer het, dis genoeg om my pensioen te verdubbel !!

Ons kuier lekker die Valentynsaand, saam met die Hollander en groet hom deur te sê ons sien mekaar dalk weer vorentoe, min wetende!

  • Wow Hendrik. Dit is n amazing stories. Geniet dit baie. Fotos is baie mooi ! Mens se hart trek sommer n punt na die wye oop vlaktes.

  • Leave a reply