Dag 28

Dag 28. Saterdag 15 Februarie

Vandag is my oudste seun Jan Hendrik se verjaarsdag. Hy is vandag 30 jaar oud en ek verlang as ek met die koppie koffie in die hand oor die see staan en staar. As ons tuis was, was ons ook vanaand by sy party, want hulle bly net om die draai van ons af en glo vir my, dit gaan ʼn PARTY wees! Dis soms moeilike goed hierdie, die besluit om op vakansie te wees met iemand na aan jou se verjaarsdag. Watter verjaarsdag is nou die belangrikste, watter een mag jy nie mis nie en watter ander kan jy maar laat verbygaan?

As gesin het ons die kinders probeer leer om nie vir ʼn spesifieke geleentheid te wag (verjaarsdag, Kersfees, wat-ook-al) om iemand se lewe, blydskap, prestasie of vriendskap te celebrate nie, doen dit by vele geleenthede en moet nie wag vir ʼn spesifieke datum nie. Vertel die mense wat hulle vir jou beteken elke keer as jy hulle sien, nie net op ʼn spesifieke dag nie. Ek mis nogtans my seun.

Ons pak op, eet jogurt en vrugte en vat die pad. Vroeër jare het jy ʼn permit nodig gehad om hierdie 137 km roete na Strandfontein al langs die see af te ry. Die pad is redelik sanderig en moet jy maar momentum hou om nie vas te val nie, veral as daar opdraandes is. Die natuurskoon is ongelooflik met die see aan die regterkant en die uitgestrekte landskap links. Hier kan jy nog enige plek kom tent opslaan en kom vakansie hou, hier op die see. Jy moet net genoeg drinkwater saambring, seker maak jy het ‘n battery en Solar krag en die see sal vir die kos sorg, in oorvloed. Ek wil dit nog eendag kom doen, hier die lewe kom ervaar, naby moeder natuur. Die kus hier is nog ongerep en min mense weet van hierdie juweel.

Ons vorder goed en ry verby Abraham Villiersbaai, Bruinklip, Geelklip, Blougat, oor die Brak rivier, Strandbaai, verby Brand se Baai tot by die Namakwa Sands myn waar ons op die teerpad klim na Koekenaap en Lutzville. Hierdie stuk kuslyn moet jy eintlik stadig beleef, so paar dae toer en plek-plek kamp om dit te waardeer.

Op Lutzville maak ons brandstof vol en doen aankope. Dis weer lekker warm hier in die binneland en ons mis die see-bries van die afgelope paar dae as ons die sweet afvee.

By Strandfontein boek ons vir twee dae, die kampplekke wat oor die see uitkyk met sy eie privaat ablusie. Die plek het twee kampplekke, die perdeskoen en die see-uitsig staanplekke elk met sy eie ablusie. Ek en Moeksie was al hier van-te-vore, twee keer. Die eerste keer het ons hier aangekom toe die kerkbasaar aan was oor ʼn Desember, die lekkerste lamsosaties wat ek nog geëet het. Die “ou” kampers het ons ook lekker bederf met kreef daardie keer. Die volgende keer was ons te laat vir die sosaties, ook ʼn Desember, maar daar was gelukkig nog genoeg wyn om te koop. Ons het elke keer in die “oorloop” kampplek moes staan, Paxton, links van die perdeskoen teen die bult uit met geen uitsig nie, maar lekker beskerm teen die wind. Die rede hiervoor was dat ons vir jare oor Desembermaande ook net pad gevat het sonder om te bespreek en moet vat wat jy kry.

Ons is verbaas toe ons kamp opslaan, windstil met ʼn ongelooflike uitsig oor die see. Dis Saterdag en heelwat mense van die binneland kom naweke hier uitspan, die kampterrein is redelik vol, maar ons is gelukkig om plek voor te kon kry. Baie mense verkies die agterste plekke vir as die wind waai, dan kan hulle darem oorleef, soos die stukkend geskeurde gazebo daar eenkant sy windverhaal vertel, uitmekaar gebreek. Maar ons is gelukkig, nie ʼn briesie nie. Die dagbesoekers se braaiplekke hier onder ons is almal vol en die kinders hardloop op die gras en op die strand rond, speel en raas, soos dit hoort. Ek het altyd gesê ʼn stil kind is siek, veral in hierdie omstandighede. Dit voel skoon vreemd om so baie mense om jou te sien, moet eers weer daaraan gewoond raak.

Dis lekker om op so laatmiddag vuur aan te steek, die rokie trek regop boontoe as die son die prentjie voor ons oor die see mooi maak.

Anton gaan “roofkyk” die rugby by ʼn ou wat agter ons in ʼn Tiny kamp, een van daai klein karavaantjies. Hy hang so halfpad deur die venster en kyk as hy kort-kort swets, seker as die Bulle aanjaag.

Dis nie lank nie en raai wie kom hallo sê? Gerhard die Hollander wat besluit het hy wil nie alleen op Groenriviermond agterbly nie en het ons gevolg tot hier. Hy kom ook hier kamp. Om die kampvuur vertel hy ons die res van sy lewensverhaal, al die draaie wat hy al in die lewe gemaak het, die geld, die aandeel in die bakbouersbesigheid wat hy later verkoop het. Dit was ʼn GROOT besigheid, maar hy soek nou net ʼn lewensmaatjie met wie hy al hierdie dinge kan deel, hy is alleen. Hy moet weer volgende naweek terug wees in Pretoria, het ʼn afspraak met die kerk se orreliste, en wie weet….

Terwyl hy so vertel, gaan dit deur my gedagtes, die alleenheid, eensaamheid, nie iemand om, wat jy beleef en ervaar, mee te kan deel nie. Ek sê baie vir Moeksie, sal nie lank vat vir my om weer ʼn lewensmaatjie te moet soek as sy nie meer daar is nie. Sy moet weet dit is as gevolg van my lekker lewe saam met haar.

Die sonsondergang vanaand is WERKLIK besonder! Die hemelruim gevul met rye wolke wat soos watte in die lug hang en skakeringe van oranje, geel en rooi weerkaats as die son agter die horison verdwyn, ongelooflik mooi.

Die reuk van braaivleis vul die lug as die ander kampers begin braai en die gesels van die mense vertel jou hulle is gelukkig. Die varktjoppies, groente en knoffelbrood smaak vorentoe, veral saam met die wyn wat die Hollander gebring het, weer ʼn paar GOEIE rooiwyne en ons kuier tot laataand. Die koeligheid hier langs die see gaan ons lekker laat slaap, of is dit die wyn?

Leave a reply