Dag 29

Dag 29. Sondag 16 Februarie

Moeksie is al besig met die skottegoed, toe ek my kop by die tent uitsteek. Die koffie wat jy met sulke klein slurpies opsuig terwyl jy op jou stoel sit en oor die see staar, is medisyne vir die liggaam. Die son is al uit en ek en Anton slaan die gazebo op. Hier is nie koeltebome nie en die son gaan ons vandag pak gee as jy nie oppas nie.

Anton se beurt vir ontbyt. Moeksie maak pap en hy en Magda braai wors, eiers en ʼn lekker bredie-sous wat alles opgeëet word, elke laaste krummeltjie. Na ontbyt is dit net rustig wees, Magda en Moeksie besig met hulle naaldwerk en Anton gaan stap ʼn vêr ent langs die strand. Moeksie kry selfs ʼn oggendslapie in so met die koel luggie uit die see.

Die middag ry ons Doringbaai toe, wil gaan kyk of ons nie ʼn vars vis of wie weet, dalk ʼn kreef kan koop nie. Die “bakkies” is lankal terug (dis wat hulle die klein skuite hier op die Wes-kus roep) en geen vars vis nie. Ons ry by ʼn winkel aan wat vis en kreef adverteer. Besluit om ʼn paar krefies te koop, gevries natuurlik en redelik duur, maar lus vir hierdie rooi gogga van die see saam met ʼn pak mossels.

Ons is skaars terug by die kamp toe die Hollander haastig aangestap kom, hy het hulp nodig. Hy het hom misgis met ʼn draai en sy Cruiser in ʼn sloot ingery. In my geestesoog sien ek die Cruiser daar onder naby die see lê, op sy dak. Daardie 4×4 paaie Suid van die dorp teen die see kan rof wees. Ek, hy en Anton klim in die Hilux en is skaars 500m weg, hier staan die Cruiser dwars oor ʼn diep beton watersloot langs die teerpad, onderkant die perdeskoen kampterrein. Hy was op pad kafee toe en het homself misgis met die draai. Hy sit behoorlik en daar is nie ʼn manier wat ek hom sal kan uitsleep sonder om sy voertuig BAIE seer te maak nie. Hy sê hy ken iemand uit sy verlede hier op die dorp en sal hom gaan vra vir hulp.

By die kamp sit ons en kuier toe die Hollander na so twee ure, uitasem, weer by ons aankom. Hy het een van die locals gevra of hy ene meneer Hannes ken waarop hy sê hy ken hom goed en sal saam met die Hollander stap tot by sy huis. Hulle is sowat drie kilometer die dorp uit, kom by ʼn gehuggie aan en hy stel die Hollander aan meneer Hannes voor. Dis ʼn baie bejaarde kleurling man wat sy lewe lank hier op Strandfontein bly. Die Hollander sê baie dankie, maar dis nie heeltemal die regte man waarna hy soek nie en stap al die pad weer terug. Nou is hy raad-op. Ek stel voor hy kry buitebande wat ons onder die Cruiser kan insit om beskerming te bied, of stene onder die wiele pak. Dit sal baie stene moet wees, want dis ʼn diep sloot, dan kan ek hom uitsleep. Hy is weg om te kyk wat hy gereël kan kry. Sowat ʼn halfuur later stop hy met die Cruiser langs ons, een van die plaaslike manne met ʼn Landie het hom uitgekry met ʼn winch, eers bande en planke onder die Cruiser gepak en hom oor die sloot gesleep. Hy is baie verlig.

Ons maak ʼn vuurtjie en geniet die windstil laatmiddag saam met die mooi sonsondergang. Die krefies word gekook in die seewater wat ek gaan skep het, glo dit MOET seewater wees, gee die regte smaak aan die kreef. Die krefies en mossels is net voorgereg maar smaak nie soos vars kreef nie, effe teleurgesteld. Die hoender en braaibroodjies kom aan die beurt en is ʼn wenner, soos altyd. Sal my eersgeboortereg verkoop vir braaivleis en braaibroodjies, ‘n dieet wat ek elke dag kan volg.

Wat ʼn dag, die weer wat mooi saamgespeel het, die rustig by die kamp sit en ontspan deur al die Hollander se wedervaringe deur wat gelukkig goed geëindig het, ʼn volmaakte dag. Mens kan nie anders as lekker slaap na so dag nie.

  • Leave a reply