Dag 30

Dag 30. Maandag 17 Februarie

Oudergewoonte is ons vroeg wakker. Moeksie skrop die potte en skottelgoed terwyl sy haarself verlustig in die mooi oggend wat besig is om te ontluik. Anton en Magda is wakker teen die tweede koppie koffie. Ons is rustig met die oppak, want dis net 46 km na Lambertsbaai, ons volgende kampplek. Jy ry met die grondpad langs die spoorlyn wat ʼn tolpad is en aan Spoornet behoort. Dis ʼn netjiese grondpad en mense ry hom eerder as die 185 km teerpad oor Lutzville, Vredendal en Klawer.

Dis nog vroeg as ons in Lambertsbaai aankom en kan eers nie besluit of ons hier in die dorp wil kamp of eerder by Muisbosskerm wil gaan ontspan nie. Ek en Moeksie het al by beide gekamp en die dorp wen, want hier is heelwat te sien en doen. As ons by Muisbosskerm kamp, moet ons die hele tyd in-en-uit ry. Die kampterrein is verlate en daar is nog een ander karavaan in die kamp. Ons kan kies en keur waar ons wil staan en soek maar die boompies op wat beskutting kan gee teen die wind van die see se kant af, want hier het jy dit nodig as hy begin waai. Ek en Moeksie is verbaas om die plek so leeg te sien, ʼn heel ander prentjie as die Desember toe ons laas hier was. Hier kamp die mense groot, ek bedoel GROOT oor Desember. Het al gesien hoe mense ʼn draad heining, kompleet met ʼn voorhekkie, hier om hulle kampplekke span. Ander het ʼn ingeboude braai hier maak staan, kompleet met steenwerk en al. Die hout wat ʼn paar bondeltjies hoog reg rondom van die kampplekke gestapel word sê vir jou die mense kom staan nie net ʼn week of twee hier nie, en hulle hou van braai. Dit is soos baie jare terug by Die Eiland naby Tzaneen waar ons dit ook beleef het, die platbak trok kom ingery met yskaste, wasmasjiene, hangkaste, beddens en matrasse – die hele huis se meubels, lyk dit as hulle begin afpak. Die werkers maak heeldag kamp en net as die vuur laatmiddag lekker brand, kom die oom en tannie in die Mercedes daar aangery, hulle kom kamp vir ʼn paar weke en die werkers kan terug plaas toe.

Nadat ons kamp opgeslaan het, gaan maak ons ʼn draai by Juanita Birkholtz by Sir Lamberts gastehuis. Erwin, haar man, kuier tans in Carletonville by sy pa se tagtigste verjaarsdag. Erwin, ʼn lewenslange vriend, het saam met ons op Schweizer Reneke grootgeword, sy pa was ons huisdokter, oom Frans. Dis altyd lekker om ou vriende op te soek, iets wat ons nie genoeg doen as ons op vakansie is of deur plekke ry waar vriende of familie bly nie. Ons is te haastig, het nie nog tyd vir kuier nie, moet vakansie hou. Dan, eendag, as dit te laat is, wens ons ons het meer tyd gemaak vir mense wat inspraak in ons lewe gehad het, maar dan is die tyd verby, te laat, want hulle is nie meer daar nie.

By Spar koop ons rolletjies en ʼn paar ander goedjies. Die hot dogs terug by die kamp vul die ergste honger en ons besluit om rustig te verkeer by die kamp vir die res van die dag. Magda en Moeksie vorder fluks met die naaldwerk en breiwerk. Later die middag gaan stap ons langs die see en die seereuk is uniek en vars hier teen die Wes-kus. Ons gaan soek later ʼn plek in die dorp wat Anton se waentjie se jockey wiel kan reguit buig, hy gee probleme. Ons kom by die PIENK werkswinkel aan, alles is pink geverf, selfs ʼn piek tuinslang en Magda wil dadelik ook so een hê. Die man is baie hulpvaardig en met die hidroliese press gaan dit vinnig om die yster weer reguit te druk.

Net soos die son sy kop wil wegsteek oor die horison, bevind ons onsself op die stoep van Isabella’s, die bekende restaurant op die hawe en geniet die lekker weer waar Juanita by ons aansluit. Moeksie, Magda en Juanita bestel elkeen ʼn Weskus slaai op Juanita se aanbeveling. Ek en Anton bestel die vis van die dag wat ʼn lekker snoek is. Toe ek die Weskus slaai sien, is ek en Anton spyt ons het nie ook daarvoor gegaan nie, maar besluit dat ons sal terugkom vir hom.

Die gesels en ching-ching om die tafel getuig dat almal hulself geniet en spreek van BAIE LEKKER kuier saam met die regte geselskap!

Dis laataand en toemaaktyd toe ons die laaste glasie wyn wegsluk! Wat ʼn fantastiese aand!

  • Ek toer lekker saam en sien die prentjies!!! As Daan naby is lees ek stukkies voor…ons beny julle! Ons het nie vriende wat saam kan toer nie! Hoop ons kamp julle nog iewers raak.

  • Leave a reply