Dag 31

Dag 31. Dinsdag 18 Februarie

Ons slaap laat as die bewolkte oggend besluit om ʼn misreën oor die dorp in te bring. Na koffie en shower besluit ons om by Sir Lambert’s te gaan kuier. Ek het bietjie rekenaar werk om te doen op die internet en Juanita het gesê ek is welkom om dit daar te kom doen. Na die kuiertjie en koffie klim ons terug in die Hilux, natuurlik nie sonder die twee plastieksakke in die hand nie.

Na gisteraand se lekker kuier nog vars in die gedagtes, besluit ons daar moet weer besoek afgelê word by Isabella’s op die hawe, moet daai Wes-kus slaai gaan proe. Dis amper Kaapse wintersweer as die windjie waai en die misreën alles nat hou. Ons geniet almal die Wes-kus slaai (en die wyn) en is nie haastig kampplek toe nie. Hier kan mens maklik vashaak en vergeet jy het ʼn huis, dis lekker.

Later die middag is ons terug by die kamp en Moeksie en Magda vorder fluks met die naaldwerk. Daar is nog genoeg tyd om ʼn middag-slapie in te werk, heerlik, veral in diè weer.

Ek is eerste op om die halwe drom reg te kry vir die vuur, want vanaand is die aand!  Die rooi goggas gaan aandete verskaf, 10 van hulle op die kole. Dis redelik koel met ʼn windjie wat van die seekant af inkom, maar die bos aan die Westekant bied genoegsame beskutting dat ons almal om die vuur kan kuier. Ons het wel baadjies aan en Moeksie met haar kombers. Vanaand word die half gekookte krewe in helftes gesny en op die kole gebraai met ʼn knoffel-botter sousie en suurlemoensap. Moeksie het klaar die mayonnaise en tamatiesous gemeng, ons eie seefood konkoksie. Ek en Anton dop die vleis uit die doppe en suig aan die pote so tussen die wynproe deur. Die leë bakke later die aand is genoegsame bewys dat almal, Moeksie ook, die kreef geniet het.

Die weer laat ons nie toe om laat buite te kuier nie en die vroeg bed toe gaan is dalk bestel, want more is dit opslaan en verder ry, sal nog besluit waarheen.

Leave a reply