Dag 32

Dag 32. Woensdag 19 Februarie

Dis nog reënerig as ons opstaan. Ons hang rond, Magda en Moeksie was die skottelgoed en ons geniet ʼn koppie koffie (ek so drie) en besluit om eers na ontbyt kamp te kom afslaan. Dalk is die tente dan bietjie droër. Juanita het ons genooi om by Sir Lambert’s te kom ontbyt eet, dan het ons minder skottelgoed.

Die ontbyt by Juanita is ʼn GROOT bederf, die Full Monty soos jy dit net by Sir Lambert’s kan kry. Ek voel weer bevoorreg om sulke vriende te hê, mense wat jou op die hande dra en bederf, geen moeite is te veel om jou lekker te laat kuier nie. Wens ek kan hulle ook so bederf, maar hulle kom min in ons wêreld. Sal maar die pay-it-forward ding doen, daar is baie geleentheid daarvoor.

Terug by die kamp is die tente redelik droog toe ons oppak.

Ons ry al langs die see af na Elandsbaai, drink koffie by die Wit Mossel Pot en ry verder al langs die see na Velddrif, waar ons weer voorraad aanvullings doen op ons pad na Paternoster.

Die 144 km vir die dag is als teerpad en ons het besluit om by Tietiesbaai te gaan kamp. Ek was al baie hier maar het nog nie by Tietiesbaai gekamp nie, was elke keer net ʼn dag-trip hierheen. Ek en Moeksie het al eenkeer hier op Paternoster in ʼn huisie gebly vir ʼn naweek, jare terug. Dis ʼn lekker plek hierdie.

Soos ons die pad verby die hotel in Paternoster ry, merk ons die interessante manier van die locals se groet, plat hand in die lug met die vingers wat vinnig na die palm toe en terug beweeg, wat beteken hulle is nog vars. Nee, jy verstaan verkeerd, nie die locals wat vars is nie, dis die kreef wat hulle verkoop wat vars  en nog lewendig is. Ons is wetsgehoorsame burgers en ons ry reguit verby hulle Tietiesbaai toe. Ons is redelik verbaas om te sien hier is heelwat kampers by Tietiesbaai en met die naweek wat voorlê is daar nie baie kampplekke beskikbaar nie. Die plek wat ons kry is lekker beskut langs die rotse, maar ook naby genoeg aan die see. Hier gaan ons lekker kamp.

Die sonnetjie skyn lekker as ons begin opslaan, het die sonnetjie nodig want die tente is nog redelik klam en hier is nie krag nie, so die sonpaneel moet die werk doen. Met die ablusie wat redelik vêr is, slaan ek ons porta skerm op vir as ons hom gaan nodig kry.

Anton se matras is klam en hy gooi die matras op die rotse voor ons uit om asem te kry. Die matras lyk so aanloklik en Anton maak homself tuis op die matras, so gemaklik dat hy soos ʼn rob in die son lê en bak.

Die mense kamp maar redelik rof hier en dit vat ʼn tydjie om al die gemors op te tel en die terrein om ons skoon te kry. Ek kan baie dinge verstaan en hanteer, maar die een ding, mense wat bottels teen die rotse stukkend gooi en die glasskerwe net so los, daai een verstaan ek nog nie. Ek is seker nog nie so STERK soos hulle nie. Daar is ʼn groot gewerskaf op die rotse tussen ons en die strand, ligtoring se kant toe, met ʼn groot klomp tente wat naby die ingang na die baai opgeslaan is. Ons sou later verneem dit is die jaarlikse On-The-Rock’s fees wat hierdie naweek hier aangebied gaan word, blykbaar ʼn GROOT kuier hier op die see.

Nadat ons kamp staan, besluit ons om die dorp te gaan besoek, ʼn paar ou herinnerings te gaan oproep. By die hotel is ‘n en ʼn dop in die Panty Bar ʼn moet en ek dink terug aan die keer toe ek en Moeksie laas hier gekuier het, die twee van ons saam met ʼn klomp oud-lede van die polisie wat jaarliks hulle reünie hier kom hou het. Dit was ʼn laaaang en lekker kuier saam met die manne, elkeen met ʼn storie wat jou dae lank kan besig hou. Van die muurbehangsels (en die dak dekor) wil ek nie veel sê nie, jy moet dit self gaan besigtig. Maar wees gewaarsku, dis nie vir onder agtien nie, en jy MOET ʼn dop sit en drink om alles te kan inneem en waardeer. By die parkeerterrein onder die bloekoms voor die hotel is die aanbod van die mossels en rooi flapstert baie aanloklik, maar ons staan sterk. Ons koop hout op ons pad terug kamp toe en help eers ʼn ou-ballie naby die ligtoring wat sy BMW motorfiets laat val het en nie alleen kan regop kry nie. Nee, hy is nie hoog-bo nie, hy is redelik tingerig, vol ge-kiet en met die omdraaislag op die dik sand het hy balans verloor en die fiets laat val. Hy het ʼn paar keer probeer om die fiets regop te kry, maar sy krag is te min.

Die windjie is stil en dit is die perfekte weer wat ons gebruik om ʼn glasie wyn (of twee of drie) op die rotse langs ons kampplek te sit en geniet, terwyl ons sien hoe die son sy kop stadig neerlê na nog ʼn perfekte dag. Die branders praat hard hier voor ons as hulle teen die rotse slaan en die massas water meters hoog die lug in skiet. Hier sit jy en staar, elkeen besig met sy eie gedagtes en jy verlang na mense wat jy nie ken nie, dis ʼn salige gevoel. ʼn Emosie gevul met dankbaarheid vir al die genade, die geleende tyd, dis kosbaar!

As ons die vuur aansteek is dit redelik koel met die son wat weg is en ʼn ligte windjie wat van die see af ingekom het. Die hout is nie van die bosveld (of Bray) af nie en rook ons behoorlik uit voor ons dit ordentlik kan laat vlamvat. Anton en Magda het afsprake by die tandarts in Durbanville gemaak, running repairs moet gedoen word en hulle gaan more na ontbyt oppak. Ek en Moeksie gaan nog kamp en toer en wel, weet nie wanneer nie, by hulle in Durbanville by hulle huis aansluit. Van daar af sal ons weer saam toer. Die kuier om die vuur na die tjops en knoffelbrood duur nie lank nie, almal kry koud en ons gaan kruip vroeg in.

  • Baie dankie vir die deel van julle ervaringe. Geniet dit vreeslik. Ons was ook al by ‘n paar plekke waar julle ook getoer het en ek het met groot heimwee terug verlang na die plekke. Ons is geseënd om in ‘n land te bly met so ‘n diverse verskeinheid van natuur vorme. Dis net jammer die finansies wil nie saamwerk om dit alles te kan belewe nie. Hoop ek kan nog baie van jou stories lees.

  • Elke dag as ek hier lees dan besef ek dat ‘n goeie pel kosbaar is as ‘n ou so kamp. Het al baie probeer maar nog nie gekry nie wie weet miskien eendag, groete

  • Ja Hendrik ons ken mekaar van Schweizer skooldae af en dis lekker as julle af en toe ń draai hier kom maak. Jammer ek het jul met die trippie gemis. Jou pa was vir baie jare ons tandarts. Dankie vir aanbeveling vir ons gastehuis, hoop ons sien mekaar gou weer. Groete Erwin en Juanita.

  • Leave a reply