Dag 33

Dag 33. Donderdag 20 Februarie

As die ander hulle koppe by die tente uitsteek sit ek lankal op die rotse na die see en kyk, besig met my eie gedagtes en dink diep. Dit is terapie vir my, so te staar na die see, die berge of sommer net die natuur. Die koffie hier op die rotse het weer ʼn eie smaak, soos dit net hier kan proe. Ons ry ablusie toe en gaan reinig onsself en ek moet bieg, die plek was nogal skoon en netjies. Net die reukie buite van die verstopte of vol riool wat nie lekker was nie. Wonder hoe dit die naweek se mense gaan hanteer en ek besluit by myself ek sal maar self more oppak.

Ons ry dorp toe en stop eers by die duikertjie wat voor ons oor die pad loop. Lekker om te weet hier is nog wild wat hier rondloop, weet nie vir hoe lank nog nie. Ons stop by die hotel en stap die winkeltjies deur, Moeksie en Magda meer sorgvuldig as ek en Anton. Hier is heelwat winkeltjies en jy kan redelik tyd hier spandeer. Ons gaan eet ʼn brunch by Blikkie Pizzeria en raak lekker aan die gesels met die eienaar en ander besoekers. Dis ʼn Wes-kus huisie op die hoek van die straat met ʼn lekker groot stoep voor op die pad. Het al geleer, hier op die Wes-kus moet jy nie haastig wees nie, daar is altyd ʼn storie om na te luister of te vertel oor ʼn glasie wyn.

Ons help vir Anton en Magda oppak en ek en Moeksie geniet ʼn rustige middagslapie. As ons opstaan is dit vreemd om nie vir Anton en Magda hier te hê nie, dit voel so half eensaam sonder hulle. Ons gaan hulle mis die volgende paar dae. Ek en Moeksie ry weer dorp toe, het besluit om ʼn kreefslaai vanaand saam met die ribbetjie te eet. Dit vat nie lank om die twee lewendige krewe op te spoor nie en ek dink anders hierdie keer as hulle in die sak agter in die bakkie val. Ek kry hierdie mense jammer as ek na al die stories van die mense op die dorp luister, vissermanne wat uit die see ʼn lewe gemaak het, maar nou kry hulle nie meer permitte nie. Die stories al menige maal op televisie ook gesien, hulle LEWE is opgeskort. Hoe moet hulle nou maak, hoe moet hulle oorleef, waar moet hulle kos vandaan kom? Baie gesinne en families om te onderhou, wat sou ek gemaak het as ek in hulle skoene gestaan het? Ek weet nie rêrig nie want die genade is nog oorvloedig in my bord, maar ek voel vir hulle, die vissers van die Wes-kus.

Dis sommer lekker koud as die son laag op die see die einde van die dag aankondig. Dis weer ʼn besonderse sonsondergang met wolkies wat ekstra kleur aan die lug gee. Die krewe is in die potysterpot vol seewater op die kole en die ribbetjie begin stadig op die kant kleur kry. Vanaand, soos elke ander aand, is ons nie haastig nie en ek en Moeks geniet die geluid van die see wat die enigste klank is wat jy hoor, musiek in die ore. Die kreefslaai (kreef, tamatie en uie baie fyn gekerf met ʼn bietjie seefood mayonnaise) saam met die ribbetjie is ʼn ete wat jy nêrens ter wêreld so lekker kan geniet soos hier nie, nie eens gepraat van wat jy daarvoor sal betaal nie! Ek en Moeksie geniet dit!!!

Die koue jaag ons vroeër as gewoonlik bed toe, of is dit ons geselskap wat nie vanaand saam met ons kuier nie. Ek kook eers water vir Moeksie se warmwatersak, anders gaan die ysblokke – haar voete – my koud maak deur die nag.

  • Leave a reply