Dag 34

Dag 34. Vrydag 21 Februarie

Met die fees wat die naweek hier gaan plaasvind het ons besluit om verder te toer, maar ons is nie haastig nie en pak op ons tyd op. Dis redelik koel en die windjie waai wat die oppak lekker maak, hoef nie elke tien minute te rus en die sweet af te vee in die son nie. Dis net na tien as ons die dorp uitry op pad na Langebaan, moet eers daar gaan hallo sê. Ons het baie tyd want dis net 105 km tot op Yzerfontein waar ons wil kamp. My swaer Kobus en Anna, my oudste seun se skoonouers, bly op Langebaan. Kobus het sy droom hier kom lewe, diamante. Hy het ʼn konsessie in die see naby Groenriviermond wat hy wil delf, maar sukkel al ʼn geruime tyd om die regte boot te kry en die regte toerusting te installeer. Daarby saam het hy al vir ʼn lang tyd kanker wat hom onlangs weer in die hospitaal laat beland het. Kobus is ʼn feigther en niks kry hom onder nie. Ek glo hy kry swaar maar hy soek nie simpatie nie, ʼn voorbeeld vir baie van ons. Daar is ʼn paar maande tevore ʼn TV program “Diamond Divers SA” van sy boot en die diamant industrie van klein diamant delwers van die see geskiet. Nogal die program gevolg en lekker gelag as my skoondogter Michelle al die inside info vir ons vertel van elke episode en wat die WAARHEID agter die skerms was. Net weer besef, moet nie alles glo wat jy op TV sien nie, die pap word soms, of is dit meeste van die tyd, maar dik aangemaak. Mense soek mos sensasie. By hulle huis aangekom het hy nog gerus en kom groet ons toe hy opgestaan het. Sy neus bloei en hy voel baie verleë om so voor ons te sit met die lap voor sy neus. Dis nou al ʼn paar dae wat die neus nie wil ophou bloei nie. Soos altyd weerspieël hy hierdie sterk man, praat nog van wat hy alles moet doen om die boot op die see te kry, maar ek kan sien hy is moeg en kry swaar. My seun het ons ʼn paar dae tevore laat weet dit gaan nie goed met Kobus nie. Ons geniet die tee en koekies en ons kan die waardering vir ons inloer op hulle gesigte sien toe hulle ons afsien. Ek en Moeksie is ʼn rukkie lank stil toe ons daar wegry, nie seker wat om vir mekaar te sê nie, elkeen net besig met sy eie stilgebed.

Ons het besluit om op Yzerfontein te gaan kamp. Ons was al hier, baie jare gelede, vir ʼn goeie vriend Chris en Riana Esterhuise kom kuier wat hier kom vakansie hou het in ʼn huis. Ons het in die laat tagtigs vir vier jaar in Sibasa (die ou Venda) gebly en dis waar ons hulle leer ken het, groot vriende geraak. Die kinders was nog klein en dis waar hulle die eerste keer kreef geëet het. Ons was gelukkig en het omtrent 15 KREWE, ja KREWE in die hande gekry. Dit was knewels. Party gekook en ander gebraai saam met die witmossels wat ons self gaan uithaal het. Dit was ʼn GROOT fees, het nog nooit weer soveel kreef op een slag geëet nie.

By die kampterrein se ontvangs is ons verbaas om te hoor daar is nog net twee staanplekke beskikbaar vir die naweek. Wat is die geleentheid in die dorp wat almal hierheen lok vir die naweek, wil ek weet. Niks, dis normaal en hulle is amper elke naweek van Desember af nog redelik volbespreek. Ons kry ʼn goeie staanplek naby die ablusie tussen die laning boompies oorkant die speelpark. Hier is al die kampplekke beskut tee die wind met die lanings bome aan weerskante geplant wat ʼn heining vorm en het redelik gras. Net die aan die see se kant teen die duin het groot koeltebome, maar min gras. Nadat ons kamp opgeslaan het gaan stort ons eers lekker voor ons aankope gaan doen.

By die Spar gaan doen ons aankope vir die naweek en “praat van die duiwel dan trap jy op sy stert” is die uitdrukking as jy van iemand praat en jou wrintie waar, hier is hy. ʼn Oud kollega van my, Jan en Hanle Marais, het hier kom aftree en hier staan hy voor ons in Spar. Hy nooi ons om ʼn wyn te kom drink later die middag. Ons is terug kamp toe, eet ʼn broodjie en gaan soek vir Jan en Hanle op. Ons word gasvry ontvang en kuier op die stoep met ʼn mooi see uitsig. Die glasie wyn was dalk ʼn bottel of twee, maar dit was lekker om weer ou toue te vleg en oor die “goeie ou dae” te gesels.

Terug by die kamp is ons verbaas hoe vinnig die kamp vol raak. Dis na ses en die mense van die Kaap het seker nou hier aangekom. Ons stap met die plankiespad oor die duin wat uitkyk oor die strand en geniet die sonsondergang. Ons kampvuur is goed op dreef toe ek die gesprek langs ons hoor, ʼn man wat nie baie gelukkig is nie en sy vrou nog minder. Met die harwar tydens die pakkery het hy die pale van sy tent by die huis vergeet, nou moet hy terugry Durbanville toe om die pale te gaan haal. Ek stap oor en bied aan dat hulle my tent (ek het altyd ʼn ekstra twee man tent by my as ek kamp, vir ingeval) kan leen vir die naweek. Ek help hulle opslaan en hulle dankbaarheid is oorvloedig, ek net dankbaar dat ek iemand kon help. Ek reël met hom dat ek na die naweek iewers in Durbanville gaan wees en hom sal kontak om weer die tent terug te kry.

Ek en Moeksie het ons vergaap aan die mense, meestal jonges, wat hier kom kamp het vir die naweek. Die kar stop, tent word opgeslaan, matras word opgeblaas en saam met beddegoed – nie veel nie –  in die tent gegooi. Dan gaan die kattebak oop, dit is die kombuis en hulle kuier uit die kattebak uit, kos en dop. Ons doop hulle die kar-kampers, soos ek dit gedoen het baie jare terug tydens Jool by RAU (UJ). Wat het jy nou meer nodig, sal die antwoord wees as daar enige vrae gevra word. Soos gewoonlik stap ek en Moeksie na ete deur die kamp en geniet dit saam met die mense wat om die kampvure kuier.

Die atmosfeer die aand in die kamp is jolig, nie hard nie maar gesellig en ons kuier tot laat om ons eie bosveld TV. Ek en Moeksie praat tot laat die aand in die tent oor die kar-kampers, eenvoudige manier van kamp maar tog so lekker, maar kamp sal ons kamp.

Leave a reply