Dag 35

Dag 35. Saterdag 22 Februarie

Ons slaap lekker en staan eers laat op, dit is na son-op. Na ʼn paar koppies koffie besluit ons om verder te ry, miskien Paarl toe om by Swaerie te gaan kuier. Dit is my sussie Antoinette se man, Ben Vermooten. Hulle bly in Winelands Estate buite Paarl op die pad na Franschhoek.  Die naam Swaerie kom al baie jare, toe ek nog gewerk het en baie by hulle oorgeslaap het met al my vergaderings in die Paarl. Hulle butler se naam was Christopher, hy was die tuinier en huishulp en as ek daar stilgehou het was hy altyd daar om my baie vriendelik te groet “hallo Swaerie” en my tas te dra. Hy sal nie huis toe gaan as hy weet ek kom kuier nie, moet my eers verwelkom. Ek dink ek en Christopher het aan Ben die naam Swaerie gegee, baie jare terug.

Ons pak op en vat die 167 km pad na Paarl. Die padstal langs die pad lok ons in vir ʼn koppie koffie. Daar is baie snuisterye maar ons beursies bly toe, soms lekker om net deur te stap en na al die goedjies te kyk. Ons besluit om vir Swaer Kevan, my jongste seun se skoonpa op Melkbosstrand, te gaan hallo sê. Hy is deur ʼn moeilike tyd en het ʼn ruk gelede sy werk verloor. Hy het op kontrak by Koeberg gewerk en sy kontrak is nie hernu nie. Hy het ʼn nuwe meisie ontmoet, Zelda, wat baie goed na hom omsien. Ons kry hulle by die Restaurant waar Zelda werk. Ons geniet ʼn ligte voorgereg saam met Kevan en die gratis  vonkelwyn wat Zelda aanbied en saam met ons geniet gaan goed af. Bly ons het vir Kevan weer gesien en vir Zelda ontmoet.

Die pad verder Paarl toe is vreemd, ek bedoel ongewoon, het lanklaas soveel karre op die pad gesien. Die afgelope 35 dae was daar maar min verkeer op die paaie waar ons gery het en ek verkies dit so, maar dit vat nie lank voor jy weer die ding gewoond raak nie. Die rat race waarmee ek vir soveel jare moes  saamleef in Johannesburg.

By Swaerie aangekom is die huis vol mense, soos gewoonlik. Hulle hou ook van onthaal soos ek en Moeksie. Sy neef en die se vrou en hulle drie kinders uit Engeland is in die Kaap op vakansie en het vir die dag kom kuier. Ben se ma tannie Charlotte kuier ook uit Potchefstroom en seun Tertius se meisie Mari en oudste seun Ockie sluit die middag ook by ons aan. Dis lekker warm en die swembad bied lafenis teen die hitte van die Paarl.

Ons kuier gesellig en die vuur brand hoog. Swaerie se inkom in die familie is eintlik ʼn lang storie maar ek sal ander dag alles vertel. Hy is amper meer soos ʼn broer vir my en die res van die familie as ʼn swaer. Vanaand is dit ontbeende skaapboud op die kole, soos net Swaerie dit kan doen. Dis tyd vir fles vat want almal wil ons storie hoor, waar ons oral was, wat het ons gedoen, gesien, ervaar, te veel vir een aand om die vuur. Dis lank na die feesmaal van vleis, groente, slaaie en nagereg en al die gaste weg is en die ander in die bed, dat ek en Swaerie nog gesels oor die toer en al ons wedervaringe. Dit raak gewoonlik laat saam met hom voor ons gehoor gee aan die velle wat roep, dis ʼn ander naam vir ʼn bed.

  • Altyd lekker om saam met swaer Hendrik te kuier, net jammer van die kopseer die volgende oggend ! Sy droom het waar geword en hy en Glyn geniet steeds elke oomblik

  • Leave a reply