Dag 36

Dag 36. Sondag 23 Februarie

Die slaap was luuks en ons ontwaak eers as die son al hoog sit. Ons geniet die gebruiklike koffie (of twee) en Antoinette bederf ons met ʼn groot ontbyt. Die vrae oor ons wedervaringe hou nie op nie en ons hou net aan vertel.

Ons luister saam met hulle na die kerkdiens oor die radio en ek verlang na my gemeente, my predikante se preke. Ons ry dorp toe want Moeksie wil ander sandale koop. Gelukkig gaan dit vinnig, dink Moeksie het ook benoud begin voel tussen al die mense in die Mall en nie lank ge-shop vir die sandale nie. Ons is nie meer soveel mense om ons gewoond nie en verkies die stilte van die bos. Ons kuier die res van die dag saam met die familie en is rustig by die huis. Ben se sus Ri kom ook die middag kuier en dis lekker om haar weer te sien. Swaerie is soos ek, hy hou ook van braai en die middagete is steak en varktjops op die kole saam met slaai. Die middagslapie is net wat die dokter voorgeskryf het en ons staan heelwat later met nuwe energie op.

Ons – Ben, Anto, tannie Charlotte en ek en Moeksie – besluit om die aand net ʼn voorgereg of Sushi by Bossa Nova restaurant in die hoofstraat te gaan eet, net iets lig na die groot middagete. Ek dink ek het al aandele in hierdie restaurant, soveel kere het ek hier kom eet as ek vergaderings in die Paarl moes bywoon. Die atmosfeer is lekker ontspanne met die uitsig vanaf die stoep oor die Hoofstraat en die plek is redelik vol, almal seker te lui (soos ons) om kos te maak. Die weer is lekker en ons is gesellig en kuier lekker tot redelik laat.

Terug by die huis sluit ek en Swaerie ons kuiertjie af met ʼn laaste knertsie want more ry ons na Anton en Magda toe. Die weer is redelik warm en ons slaap lekker.

Leave a reply