Dag 37

Dag 37. Maandag 24 Februarie

Dis Maandag en Ben en Anto is vroeg op, hulle moet gaan werk. Ons drink ʼn koffie saam met hulle en sien hulle af. Ek en Moeksie kry al ons goedjies bymekaar, pak die waentjie en vertrek na ons ontbyt geniet het. Die 35 km na Durbanville gaan vinnig, dis lank na spitsverkeer. Ons gaan ʼn paar dae hier vertoef want die Hilux moet ingaan vir ʼn diens, die petroltenks moet afgehaal en skoongemaak word en dit kan ʼn dag of twee neem. Die waentjie is ook due vir ʼn diens na al die paaie wat hy deur is. Die afspraak vir die Hilux is reeds verlede week gemaak, hy moet more in. Anton beveel aan ek laat die waentjie by Speedy Exhaust nagaan, hulle gee hom altyd goeie diens en dit is net die wheel bearings en shocks wat na gekyk moet word. Die Hilux en waentjie wat moet ingaan vir dienste noop ons om amper alles af te pak en in Anton se garage te stoor. Dit vat nogal ʼn tydjie.

Na die afpak besluit ek en Moeksie om ander vriende wat in Somerset Wes bly, Bruce en Louise Morrison, te gaan opsoek. Ons ken hulle ook van ons Venda dae af. Ons word hartlik ontvang en gesels ou dae se dinge oor ʼn koppie tee en koek. Lekker om ou vriende op te soek en stories uit te ruil, werk, kinders en sommer net die verloop van die lewe.

Die aand by Anton en Magda is rustig en ons vertel hulle van die laaste paar dae se kamp, was baie lekker maar het hulle gemis. Hulle het al hulle running repairs gedoen, Anton se swembadpomp loop weer en hulle is reg om weer die pad saam met ons te vat.

Leave a reply