Dag 38

Dag 38. Dinsdag 25 Februarie

Ek en Anton is vroeg op om die Hilux in te vat vir sy diens. By die garage verduidelik ek aan die diensbestuurder van die vuil petrol en gee die drie skroewe van die petrolfilter wat die ouens nie kon terugsit nie aan hom. Hy sê dit gaan minstens twee, moontlik drie dae neem om beide petroltenks af te haal en skoon te maak en die diens te doen. Gelukkig het ons ʼn basis – Anton en Magda – en ons is nie haastig nie. Ons het besluit ons sal weer verder ry as alles gedoen is wat gedoen moet word. Ons ry terug huis toe om die waentjie te gaan haak. Moeksie en Magda is reeds weg om hare te gaan sny en ek en Anton gaan los die waentjie by Speedy vir sy diens. Ek is nie haastig om hom terug te kry nie en sê die manne moet ʼn goeie job doen, moet nog vêr ry die volgende paar weke, of maande.

Dis net voor twaalf toe ons al vier die pad vat in Anton se Fortuner, Bloubergstrand toe. Ons het ʼn paar jaar tevore ʼn eetplek hier ontdek wat ons elke keer MOET besoek as ons in die Kaap kom, Ons Huisie. Die weer is ongelooflik, een van daardie windstil sonskyn dae wat die kuier buite op die stoep met die uitsig oor die see na Tafelberg aan die oorkant en Robbeneiland aan die Westekant besonders maak. Sulke dae is nie volop nie en ons geniet die voorreg om hier te kuier. Die gebruiklike Mosselpot as voorgereg is ʼn feesmaal op sy eie en ek vra vir nog van die spesiale broodjies om die laaste sous uit die potjie te skraap met die broodjie. Dis amper ʼn ete op sy eie maar ons het tyd om laaaank te kuier saam met die glasies wyn en ons bestel hoofgereg. Ons Huisie se kos was nog altyd tops, veral op so mooi dag saam met vriende, dan smaak dit nog beter. Na die feesmaal is dit die gebruiklike draairoomys en ʼn entjie stap op die strand.

Ons ry terug want twee ander oud kollegas en vriende is oorgenooi vir braaivleis, Chris Neethling en Jacques Crous. Terwyl ek en Anton die dinge by die huis regkry, gaan Moeksie en Magda besoek aflê by een Magda se gunsteling plekkies, die lapwinkel.

Die vuur brand lekker as Lolla, Anton en Magda se dogter en die Soutie, haar kêrel, opdaag. Chris en Jacques het ook intussen aangekom en die kuier raak lekker as ons al die stories hoor en ook ons eie vertel. Dis Soutie se beurt om vir die grootmense te braai, onder protes van Anton, want hy glo nie Soutie kan so goed soos hy braai nie. Dis mos maar ʼn manne ding hierdie, niemand kan so lekker soos jyself braai nie, nooit. Dis of Soutie wat KAN braai of dis die steak wat goeie kwaliteit is, of dalk albei, want dit smaak soos ek daarvan hou, veral saam met die knoffelbroodjie. Die kuier gaan aan tot laataand en Moeksie trek amps toe ons eindelik bed se kant toe staan.

Dit was weer ʼn volmaakte dag, Ons Huisie, die weer, ou vriende, Hilux in vir diens, luuks slaap vanaand, lekker braaivleis, wat meer kan ek vra.

Leave a reply