Dag 4

Dag 4. Woensdag 22 Januarie

Ook ons het nuwe energie na die vorige dag se reën en die oppak gaan vinnig. Na die jogurt en vars vrugte ry ons na die hoofhek.

Toe ons daar aankom, wil die benoudheid my beetpak toe ek die hordes mense en string karre sien wat in die hoofpad geparkeer staan. Wat op dees aarde is hier aan die gang? By navraag word ons meegedeel dat Noord-Wes Parke een vakante pos hier geadverteer het en al die mense is hier vir die onderhoud. Die gedagte flits by my verby, as kind wou ek ook ʼn wildbewaarder word, maar ek sou vinnig van plan verander het as die toue mense wat aansoek doen vir een pos, so lank soos hierdie tou was. Nou op pad na Mafikeng, want daar moet running repairs gedoen word. Die bakkie se kappievenster moet vervang word en Anton het die vorige dag gesukkel met die waentjie se agterklap. Die wyn voorraadvlakke is ook laag en ons gaan ʼn deel van die land verken wat ons nie goed ken nie – die verre Noord-Kaap waar die Molopo die grens vorm met Botswana.

Die herstelwerk en aankope vir die volgende paar dae is afgehandel. Ek het besluit om twee van daardie swart stortsakke by Midas te koop en hulle uit te toets. Ek het twee ander storte ook, maar het altyd gewonder hoe gemaklik is die swartsak storte werklik.  Ons vat die pad al langs die Moloporivier na Bray. Die pad is redelik en ons vorder goed. Hierdie wêreld is mooi, ʼn ander mooi.

Die rooi Kalahari-duine al langs die droë rivierbedding wat bedek is met groot, nee reuse kameeldoringbome. Dis MY wêreld en ek dink terug aan die ou grote in ons voortuin wat soos ʼn lapadak koelte verskaf het vir al die jare wat ek daar grootgeword het. Oor die radio kom dit gereeld – sal darem lekker kamp onder daardie kameeldoringboom. Die raakskote van die droogte is duidelik sigbaar in die ou grotes wat van die droogte gevrek het, dis hartseer. Dis mos Frik du Preez se wêreld hierdie, die gebied om Bray. Ons praat rugby van daardie tyd oor die radio’s en salueer die legende. Hy bly mos nie meer hier nie. Hierdie dorpie wat sy naam gekry het by die donkie, die geluid of roep van die donkie is “bray” in Engels soos die runnik van die perd. Dis warm en die Paddon kontantwinkel het net op die regte tyd hier langs die pad kom staan. Ons is net betyds, want hulle is besig op toe te sluit. Die winkel binnekant is soos ʼn oond en die klein staanwaaier binne waai net die warm lug rond.

Ons koop elkeen ʼn koeldrank en gesels oor die verskeidenheid voorraad op die rakke, ʼn regte plaaswinkel soos van ouds. Die jakkals in die pad vorentoe dui aan dat dit laatmiddag raak, al sit die son nog hoog.

Tapama Lodge aan die linkerkant soos jy Bray inry, lyk na die regte plek. Hier kamp jy op regte rooi Kalaharisand onder die kameeldoringbome soos ek nog altyd wou. Ons slaan kamp op en gaan geniet ʼn lafenis by die Lodge se lapa. Die regulars het klaar oral om die tafeltjies op die stoep gesit en gesels, elkeen met ʼn glas wat aan die buitekant nat gesweet is. Dit lyk verfrissend !! Dis vriendelike mense hierdie en ons geniet die geselsies en atmosfeer. Ons betaal vir die aand se kamp en reël vir braaihout. Dis na ses maar die hitte hang nog in die lug. Dit vat nie baie oortuiging om die lafenis van die swembad op te soek en die langpad van 262km af te spoel nie.

Terug by die kampplek maak ek ons braaiplek reg. Hier word nie gereeld gekamp hierdie tyd van die jaar op Bray nie. Die miere hier het oorvloed kos, want hulle is groot en as jy nie versigtig is nie, word jy lewendig weggedra. As kind het ons na hierdie grotes verwys as army miere. Hierdie voel soos ʼn plek waar daar fles gevat moet word, my uitdrukking vir lekker ontspan en kuier. Na ete maak ek seker dis opgeruim en alles is onder die tente gebêre. Ervaring het my al geleer: Jy slaan op vir wind en reën, al is dit die mooiste windstil dag onder die blou hemelruim, sonder ʼn wolkie in sig!

Die donkie word gestook om seker te maak die vrouens het warm water vir die storte. Die ablusie is so groot soos danssale, eenvoudig maar netjies.  Deur die aand begin dit reën, met tye baie hard. Die koeler weer is welkom en mens slaap mos anders as dit so reën. Dit was weereens ʼn volmaakte dag!

  • O die Molopo… Ons het ook ‘fond memories’ van daardie plek; die rooi sand en donkie wat bedags moet gestook word om saans warm water te he Het julle ook die karretjiemense raakgeloop? Sien uit na dag 5!

  • Leave a reply