Dag 39

Dag 39. Woensdag 26 Februarie

Ons lê in vanoggend en staan stuk-stuk op en drink ʼn koffie of twee. Ek en Moeksie het na Anton en Magda se kampstoele gekyk oor die afgelope weke en besluit om ook sulkes te koop. Hulle sit baie gemaklik en verleen meer ondersteuning aan jou rug. Boonop kan die rugleuning verstel om plat te lê ook. Ek het al BAIE kampstoele gehad en uitprobeer en ek glo hierdie is die antwoord, veral Moeksie wat meer regop wil sit in ‘n stoel met ʼn armleuning. Ons ry na ontbyt na Brights hardeware en is gelukkig, hulle het nog net twee van die Kaufman stoele in voorraad.

Terug by die huis begin Magda en Moeksie sakke maak vir die stoele, kan nie glo hoe verniel dit as dit net los lê agter in die bakkie van al die geskut nie. Ek en Anton ry om die waentjie te gaan haal. Hulle moes die shocks vervang, een was mors-af gebreek, blykbaar al ʼn tyd terug, getuig die roes op die breekplek. Een van die boute wat die vere vashou is ook soek en ek is gelukkig dat die vere nie afgekom het in die ry nie. Ek gee ʼn sug van verligting en sê weer dankie vir die genade. Alles is versien en hy is weer reg vir die langpad. By die huis pak ek  alles weer terug in die waentjie en ons parkeer hom voor Anton se huis op die grasperk. Dit was dalk ʼn fout, want menige mense stop en wil by Anton weet hoeveel soek hy vir die waentjie. Hy is nie te koop nie en rus net vir die langpad, was elke keer die antwoord.

Anton het een van daai monitor stelsels gekoop wat deurlopend jou bande se druk monitor. Die vyf pap bande (ʼn paar stukkend gery) ʼn paar jaar gelede op ons toer deur Namibië, het hom oorreed om een aan te skaf. Kon dalk een of twee bande gered het as hy dit toe al gehad het. Die een sensor het probleme gegee en hy het ʼn nuwe een bestel. Ons ry na 4×4 Mega World om die sensor te gaan haal. Hy was nie baie gelukkig toe hy amper soveel vir die een sensor moes betaal as wat die hele stelsel hom gekos het nie. Ek het besluit om ook so monitor stelsel te koop, maar besluit om maar te wag tot ek terug is in Johannesburg. My vriend Martin het ook een en die prys waarteen hy hom gekoop het was aansienlik goedkoper as wat hy hier kos. Ek weet jy kry stelsels en stelsels, maar Martin het nog nooit probleme met syne gekry nie en hy gebruik hom permanent.

Die radio wat ek in Anton se Fortuner geïnstalleer het, het nie ʼn inplug luidspreker nie en die klank lol maar soms as ons met mekaar oor die radio’s praat. Ek het ʼn plek in Parow gebel wat radio’s en onderdele verkoop en hulle het ʼn luidspreker. Dis redelik uit die pad uit maar ons besluit om te ry en een te gaan koop.

By die huis sit Moeksie en Magda weer vasgenael agter die naaimasjiene, want die stoele se sakke moet klaar en Anton het vir hom ʼn sonpaneel gekoop wat ook in ʼn sak moet kom. Terwyl hulle besig is gaan haal ek en Anton die Hilux net voor vyf, hulle het laat weet hy is klaar. Die werkswinkel bestuurder wys my die vuil modder-petrol wat uit die ou filter gekom het. Hulle het al twee die tenks afgehaal en mooi uitgespoel. Hulle kon egter ook nie al die skroefies wat  die petrolfilter vasmaak terugkry nie, maar hy verseker my die twee wat in is sal nie probleme gee nie en is genoegsaam. Ek is verlig oor die petroltenks wat skoon is maar nie baie gelukkig dat hulle oor twee dae nie al die skroefies van die filter kon terugkry nie, maar nou ja.

Ons het besluit om take aways vir die aand te kry want ons wil more weer pad vat. Moeksie en Magda eet die Nando burgers so tussen die werkery deur, hulle het nog heelwat om te doen en wil klaarmaak. Ek en Anton pak die voertuie en waentjies sover ons kan en besin oor die volgende kampplek. Ons besluit ons gaan op Kleinmond kamp tot na die naweek en sommer al die familie en vriende van die omgewing nooi om saam met ons die naweek te kom spandeer. Die uitnodigings gaan uit en almal sien uit daarna om saam te kom kamp.

Die selfoon lui en dit is seun Jan Hendrik. Skoonpa Kobus is weer opgeneem in die Constantiaberg hospitaal en dit gaan nie goed nie. Michelle het af gevlieg en is ook daar om haar pa en ma te ondersteun. Ek en Moeksie besluit om more oggend eers gou daar by die hospitaal te gaan kuier voor ons pad vat. Dis na elf as ek bed toe gaan en vir Magda alleen by die tafel los waar sy nog besig is met die naaimasjien. Sy is besig om vir elke stoel ʼn sakkie te maak wat oor die armleuning pas, waarin mens jou selfoon en nog ander los goedjies kan bêre. Dis nie moeite vir haar nie, die naaldwerk is terapie en sy is in haar element.

Leave a reply