Dag 40

Dag 40. Donderdag 27 Februarie

Ek en Moeksie is vroeg op en kry vir Magda nog by die tafel agter die masjien, sy het deurnag gewerk en alles is nou klaar. Na koffie ry ek en Moeksie Constantiaberg hospitaal toe. Ons kry vir Anna onder by die ontvangs en drink ʼn koffie saam met haar. Michelle sluit later by ons aan en sê Kobus sal nie kan afkom nie en ons sal hom ongelukkig ook nie kan besoek nie, hulle is besig met toetse op hom. Sy gees is goed en hy is vol grappe, vertel Michelle. Ons bestel ontbyt en kuier saam met hulle. Uit die opmerkings kan ek aflei dat Kobus se tyd dalk min is, weet nie rêrig nie want dis nie in ons hande nie. My gemoed is rustig want ek weet Kobus se siel is gereed, ons het al diep gesprekke gehad, ek en my swaer. Ek was al by hierdie hospitaal, twee keer vantevore, vir ʼn kollega kom kuier wat kanker gehad het en Tiaan met sy rugoperasie. Ek weet Kobus is in goeie hande.

Dis net voor een as ons terug is by Anton-hulle en ons begin die laaste goedjies pak.  Die 98 km tot by Kleinmond is ʼn pad met mooi natuurskoon en uitkykpunte, veral as jy deur Gordon’s baai, Rooiels en Betty’s baai al langs die see ry en nie oor Sir Lowry’s pas nie. Die  waentjies is gehaak en ons vat koers Strand se kant toe. Ek skrik eers toe ek skielik die stem oor die radio hoor, dit lanklaas gehoor. Hollies, Hollies, kom in. Ek staan by. Ons sê vir mekaar hoe opgewonde ons is om die toer verder saam aan te pak en sien weer uit na die kampery, was lekker by hulle huis maar het die kamp begin mis. Dis mooiweer en windstil en ons hou kort-kort stil op die pad anderkant Gordon’s baai, dis ʼn pragtige uitsig oor die see en bied heelwat Kodak moments.

Ons besluit om by Palmiet te kamp want ek en Moeksie het al by die Kleinmond Karavaanpark aan die Oostekant van die dorp gekamp, tyd vir nuwe ervaringe.

Dit was oor ʼn Desember vakansie ʼn paar jaar gelede wat ons hier was, ken nie regtig die plek nie maar wil kom kyk. Ons was redelik benoud toe ons tussen al die locals kamp opslaan. Die voertuie, duur 4×4’s en luukse karavane laat my rustiger voel en die kreef en kos wat vir ons aangedra was, was werklik ʼn wonderlike belewenis, net weer besef ons oordeel mense voor ons hulle ken, groot swakheid. Dit was werklik ʼn lekker paar aande tussen vriendelike en openhartige mense.

Dis net na drie as ons inboek by Palmiet en is gelukkig om ʼn lekker staanplek met ʼn mooi see-uitsig te kry, maar ook redelik beskut vir as die wind opkom. Dis ook groot genoeg en aangrensend aan die ander plekke wat ons vir die familie en vriende bespreek vir die naweek. Die enigste nadeel is die ablusie wat redelik vêr is, maar goeie oefening was nog nooit sleg vir ʼn mens nie. Die ander nadeel is al die kampers waar ek elke keer eers vashaak en stories hoor en vertel op pad ablusie toe en terug, dan raak die uitstappie partykeer laaank maar lekker as jy eers ʼn glasie moet saam drink.

As die kamp opgeslaan is ry ons Spar toe om ʼn laaste paar inkopies te gaan doen, veral hout vir die braaivleis. Die weer is fantasties en vanaand gaan weer spesiaal wees. Daar is heelwat ander kampers in die kamp en hulle sê die naweek gaan hy vol wees, daar word ʼn groot musiekfees oor die naweek hier aangebied.

Ons sit op die “nuwe” stoele, myne net met ʼn rooi kolletjie naellak op want al my kampgoed is so gemerk, iewers met ʼn kolletjie rooi naellak om seker te maak ek kry my eie terug. Die vuurtjie brand en die rokie trek regop boontoe, nie ʼn windjie nie, dis wonderlike weer en jy sien en hoor die branders daar onder by die see op die strand breek. Ons is gelukkig om hierdie uitsig te hê.

Ons is nie haastig met die ribbetjie en braaibroodjies nie want die wyn hier in Kleinmond smaak anders, veral as jy hom stadig in die mond spoel terwyl jy oor die see uitkyk en hom sluk. Moet ʼn duur bottel gewees het, of dalk is dit net die ambuans wat die smaak gee. As die sonnetjie sak is daar ʼn lekker koeligheid wat die dag se hitte tem. Na ete kuier ons nog lank om die vuur wat hoog brand, wil dalk seker maak die stoele was die regte koop. Die voetstoeltjies wat ons het is ook net die regte hoogte vir die stoele en Moeksie se manier van sit bevestig dat dit die regte koop was, sy is gemaklik soos ek haar daar sien sit, of is dit dalk die wyn hier op Kleinmond wat mens so laat ontspan, wonder ek.

  • Jammer ek was besig met pak, trek en afpak, maar is nou weer terug, dit bly awsume hou so aan groete

  • Leave a reply