Ons is vroeg op om die dag te sien breek as die koppie koffie die hande warm hou. Anton en Magda moet Paarl toe vandag, hulle het onderskeidelik ʼn tandarts en dokters afspraak, die laaste van die running repairs wat afgehandel moet word. Ons sien hulle af en ek en Moeksie geniet die rustigheid en uitsig vanaf ons kampplek. Ons gaan stap later ʼn ent langs die see en gaan sit op die strand en luister net na die see se inspraak.
Die windjie begin teen middag opsteek maar ons is lekker beskut en geniet dit om so in die sonnetjie te sit en bak, Moeksie met haar breipenne in hand en ek wat met die kamera en 500mm lens speel. Anton en Magda is vroegmiddag terug en ons beplan die ete, want vriend Pieter en Linda Cilliers kom later van Worcester af om hallo te kom sê. Die kamp raak redelik vinnig vol as die mense aankom wat die Jazz Fees kom besoek.