Dag 42

Dag 42. Saterdag 1 Maart

Ons wag vir die son om hoog te sit voor ons kop by die tente uitsteek. Ek is eers ordentlik wakker na die derde koppie koffie as ek en Anton besin wie waar gaan opslaan, Ben en Antoinette, Chris Neethling en sy meisie Jacqui en Lolla en Soutie kom vanaand saam kamp.

Ons was nog besig met die besinning toe Ben en Anto en tannie Charlotte opdaag. Ben se waentjie staan agter myne teen die heining. Tannie Charlotte het gereël dat sy by ʼn ou vriendin van haar wat hier op Kleinmond bly gaan oorslaap en ek en Ben gaan soek die plek en laai sy ma af. Ons sal haar later die middag weer kom haal voor ons braai.

Ons is net terug toe Chris en Jacqui en net daarna, Lolla en Soutie ook opdaag. Ons wys waar almal moet opslaan en gee hand waar ons kan. Moeksie en Magda gaan maak ʼn draai by die lokale naaldwerkwinkel want Moeksie wil ʼn kombersie maak vir tannie Charlotte. Chris en Jacqui bespreek ʼn kamer by ʼn gastehuis, hulle gaan nie kamp nie, maar saam kuier. Ons kampplekkie is nou vol en die gesels neem ʼn ander toonhoogte aan, dit raak baie gesellig.

Dis net na 12 toe ons op die dek van die Shellfish Restaurant en Shushi Bar sit met ʼn paar bottels wyn wat tussen die twee tafels wat langs mekaar geskuif is, rondgestuur word. Dis besig hier by die hawe want dis waar die Jazz Fees aangebied word. Die groot wit tent onder by die hawe is die hoof attraksie maar ons het besluit om hier op die dek te kuier waar jy die musiek kan hoor en oor alles uitkyk. Ons geniet die miernes van bedrywighede wat onder ons in die straat afspeel en almal is vriendelik as ons van hier bo af groet en skerts met van die feesgangers. Reg onder ons is ʼn verhoog op die sypaadjie waar daar gisteraand en weer vanaand optredes sal wees, van die eetplekke se manier om gaste te lok vir etes en kuier. Die leë bottels wyn wat vinnig ophoop wil sê ons kuier al ʼn paar dae hier en almal geniet die boordjies snacks wat van tyd tot tyd bestel en verorber word.

As ons net na vieruur die trappe afstap, haak my voete op die verhoog op die sypaadjie vas en my lyf gaan outomaties aan die beweeg op die ritme van die musiek. Die agtergrond musiek is redelik hard en bekend en voor ek my kon kry, is die denkbeeldige mikrofoon in my hand, my band is op ʼn roll en my vertoning trek vinnig heelwat toeskouers. Die applous as die musiek eindig laat my dink dat ek dalk my verborge talent ontdek het, of dalk is dit die wyn wat praat, maar die mense skater-lag en vra vir nog toe die werklikheid my oorval en na ʼn buiging doodluister die verhoog afstap. Die hele straat cheer as ek aanstap kar toe.

Ons is almal terug by die kamp en stap af see toe, moet eers voete in die water gaan natmaak. Ek sê mos altyd jy kan nie sê jy was by die see as jou voete nie seewater geproe het nie. Die windjie roer goed as die sproei van die branders wat breek terug gewaai word see se kant toe en ʼn mooi Kodak moment bied met elke brander wat breek. Ek voel geseënd om so oor die waters te gluur, met familie en vriende wat oral om my sit en gesels en die oomblikke geniet. Die lewe is ʼn LIED.

Die vuur brand hoog, Moeksie en Magda met breiwerk in die hand, die res op stoele en die manne staan om die vuur. Tannie Charlotte is baie dankbaar vir haar kombers wat Moeksie vir haar gemaak het en is snoesig om haar bene gevou.

As die kos gaar is getuig die stilte wat aanbreek dat almal die feesmaal van die verskeidenheid vleise saam met die groente en knoffelbrood terdeë geniet. Nog hout word op die vuur gegooi, die aand is nog jonk en daar is nog baie om te sê. Dis Nuwe maan en die vure wat by die kampplekke brand is ekstra helder.

Dis laataand as ons na nog ʼn onvergeetlike dag mekaar nagsê en gaan inkruip.

Leave a reply