Ons het gisteraand om die kampvuur besluit om vanoggend almal by een van die restaurante by die hawe ontbyt te gaan eet en eers daarna te kom kamp afslaan. Anton het vir Frans en Yvonne, ook ʼn oud kollega en vriend wat op Onrus kom aftree het, genooi om by ons te kom aansluit vir ontbyt.
Die wind waai onplesierig as Frans en Yvonne reeds vir ons sit en wag by die restaurant. Ons groet en hulle wil die hele verhaal hoor. Ons deel ons stories en gesels oor “daardie” dae – Frans was saam met Anton ʼn Streekbestuurder vir ʼn aantal jare en ook my baas. Dis lekker om net te sit, jou bestelling te plaas, lekker te eet, gesels en dan op te staan sodat ander mense die skottelgoed kan was. Die ontbyt hier by die restaurant was ʼn goeie voorstel.
Die oppak in die sterk wind is ʼn uitdaging maar ons vorder goed. Ons gaan ook vandag verder, weet nog nie waarheen nie. Almal betuig groot dank vir die reëlings om almal saam te genooi het vir die kamp en elkeen vat pad in sy eie rigting, ons en Anton-hulle deur Hermanus, en Stanford na Struisbaai. Na ʼn paar draaie ry ons Arniston toe, wil graag daar gaan kamp en die Waenhuiskrans Natuurreservaat gaan besoek en ervaar. Het al baie en mooi foto’s van die bekende grot gesien, wil dit ook gaan afneem.
Hierdie lekkerlees vertellinge is n groot lekkerte om elke dag te lees. Ek en my man geniet dit BAIE, soveel so dat hy met die padkaart sit om presies te sien waar is al die kamp plekke. Alhoewel hy in die Kaap groot geword het, is dit vir ons baie interessant om te weet waar al die kampplekke is. Ons sal ook baie graag so n toer wil doen binne n jaar of so. Nie baie tyd oor om dit aan te pak nie en moet ons die regte vriende kry om dit mee saam te doen. Manlief is in sy middel 70tigs maar darem nog fiks en gesond. Ons sal net n mover aan ons ou Jurgens Explorer karavaan moet aanbring want die karavaan raak net te swaar vir ons twee om te stoot. So het ons agter gekom toe ons in 2017 alleen deur Namibië getoer het.