Dag 44

Dag 44. Maandag 3 Maart

Ons staan rustig op, so om-en-by tweede mossie en geniet die koffie. Ons het besluit om Struisbaai en L’Agulhas toe te ry en die dag daar te gaan deurbring.

Ons eerste stop is die bekende mees Suidelike punt van Afrika waar die Indiese en Atlantiese oseane mekaar ontmoet. Daar moet ons eers die oomblik op kamera vaslê en die kameras kliek. Ek neem ook ʼn paar foto’s vir ander besoekers met hulle kameras, gereelde ding wat ek doen, lekkerder as al twee die mense op dieselfde foto is as elkeen apart op twee foto’s.

Ons stop by die skeepswrak van die Japanese visboot, die Meisho Maru wat in 1098 hier gestrand het en ek besef net weer, niks is bestand teen die “rooi gogga” (my naam vir roes) van die seewater nie, niks. Ek wonder hoe lank gaan hierdie besienswaardigheid nog vir die nageslag behoue bly as die golwe onophoudelik, dag en nag, teen die romp slaan, so asof hulle wil sê hy moet uit die pad uit. Ons kus is mos bekend vir al die skeepswrakke wat getuie is van die stormsee om Suid Afrika, wil nog ʼn toer doen om almal te gaan besoek en elkeen se storie te hoor.

Ons ry verder Oos die reservaat in en sien nog oral in die vlak see die oorblyfsels van die viskrale van toeka se dae, die klippe in ʼn kraal gepak en as die gety sak, die vis wat in die kraal vasgevang is na die hooggety, gaan uithaal. Die een wat in die vorm van ʼn hart gepak was vang die oog, wonder wat deur sy gedagtes gegaan het om hierdie vorm te pak, verlore liefde of dalk sy liefde vir die see. Ons stap rond en verwonder ons aan die ongereptheid van die omgewing, dankbaar dat dit as ʼn natuur reservaat beskerming sal bied sodat my kinders dit ook eendag kan kom aanskou.

Die besoek aan die vuurtoring was werklik ʼn ervaring waar Maureen ons elke klein detail van die geskiedenis van die toring en die omgewing entoesiasties vertel het, kan sien dis haar passie. Die plek is ʼn museum met al die foto’s van ander vuurtorings en hulle geskiedenis wat teen die mure pruik tesame met skeepswrakke en ander interessante artikels. Sy weet tot op watter dae watter bekende skepe hier sal verbykom. Die uitsig van bo, as jy kans sien om al die houtleer trappies te klim, is die moeite werd.

Die hawe by Struisbaai mag ons nie mis nie, daar is ʼn restaurant wat heerlike vars vir bedien. Ons is aangenaam verras om vir Vollie, my niggie Elsa se man, hier raak te loop. Ek was nog ʼn jong seuntjie toe ons baie jare gelede hier vir hulle kom kuier het by hulle vakansiehuis. Daardie jare was hier nog min huise en amper geen ontwikkeling nie, kan in die jare laat sestig / vroeg sewentigs gewees het. Hulle het jare gelede al hier kom aftree en ons het sedertdien al ʼn hele paar keer vir hulle kom hallo sê as ons hier verbykom. Die bier is lekker koud en ons verwonder ons aan die skuit wat honderde visse – Geelstert – aflaai, vars uit die see gekom. Dit was ʼn suksesvolle dag, lanklaas so vangs aanskou.

Nig Muriel (Meeu soos ons haar ken), Elsa se sus, het ook hier kom aftree en sy sluit by ons aan. Elsa is ook op pad, net nog besig met haar Pilatus klas. Sy lyk BESONDER goed en is soos altyd kaalvoet as sy op die bank by ons kom sit. Sy vertel ons wat ons als moet doen, die skeepswrak en reservaat (reeds gedoen) en vertel van haar groot pel Maureen by die vuurtoring, ʼn plek wat ons MOET besoek. Sy is bly as ons haar vertel hoe ons Maureen geniet het. Altyd lekker om hierdie familie te kom opsoek, ons geniet hulle.

Anton stap op die sementblad af waar die bote ge-launch word om vir Parrie, internasionaal bekende Stingray haai en sy vriende, te gaan groet. Elsa wys ons hoe hy haar hand blou gedruk het teen die sementblad toe sy hom voer en as hy speel, weet nie hoeveel krag hy het nie. Anton is in verwondering as hy vir Parrie en vriende hier voor hom in die vlak water sien speel, voorwaar ʼn wonderwerk. Voor ons ry verneem ons of die winkel nie vars vis het nie maar moes teleurgesteld die pad vat, alles uitverkoop.

Ons steek vuur aan om die tjops en braaibroodjies te braai as ons oor die dag se ervarings gesels, voorwaar ʼn dag vol nuwe belewenisse wat lank by ons sal bly. Dis effe koel maar ons gooi nog ʼn paar stompe op die vuur, moet eers die dag ordentlik verteer voor ons kooi toe gaan. Ons kan nie more weer sonder vis huis toe kom nie, ons moet ʼn plan maak.

  • Leave a reply